Nuus 13:00
BULLETIN 8 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Premier Ntuli steun Mkhwanazi vir ‘n tweede termyn as KwaZulu-Natal se polisiekommissaris
# Cosatu glo Mothibi sal ferm leierskap aan die NVG verskaf
# En krieket: Stokes erken hulle kon beter gespeel het in die reeks om die As
# KwaZulu-Natal se premier, Thami Ntuli, steun die provinsiale polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, vir ‘n tweede termyn wanneer sy kontrak in Maart eindig. Dit volg ná ‘n vergadering met nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola. Mkhwanazi is geprys vir sy sterk misdaadbestrydende leierskap en die blootlegging van beweerde politieke inmenging en korrupsie in wetstoepassing. Sy optrede het gelei tot die Madlanga-kommissie van ondersoek en ‘n parlementêre ad hoc-komitee-ondersoek, wat hierdie maand hervat. Ntuli sê hy is tevrede met Mkhwanazi se prestasie en wil voortgesette wetstoepassing hê.
# Cosatu sê Andy Mothibi se uitstekende rekord van die lewering van werklike resultate in die Spesiale Ondersoekeenheid, sal hom goed te pas kom by die Nasionale Vervolgingsgesag. President Cyril Ramaphosa het hom as nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging aangestel na Shamila Batohi se vertrek. Matthew Parks van Cosatu se sê die NVG was een van die swakste skakels in die stryd teen misdaad en korrupsie, en benodig ferm leierskap:
# Die brandweerdienste van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap het bevestig dat die brand wat laat gistermiddag in Languedoc, Stellenbosch, aangemeld is, in bedwang gebring is. Geen beserings is aangemeld nie en geen eiendom is beskadig nie. Die munisipaliteit se woordvoerder, Anesca Roodt, sê grondspanne sal op die toneel bly om die situasie te monitor en die toneel op te ruim om veilig verklaar te word:
# Krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, erken sy span kon beter gespeel het in die reeks om die As. Australië het ‘n oortuigende oorwinning van vyf paaltjies behaal in die vyfde en laaste toets in Sydney en die reeks 4-1 beklink. Stokes sê hy beplan nie om sy kapteinskap te laat vaar nie, maar erken groot werk lê voor vir die span:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-197-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-430-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-7-sent per vat.
# En ten slotte: Die voormalige minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, is aangestel as kanselier van die Nelson Mandela Universiteit, met ingang vanaf 1 April. Die universiteit se voorsitter, regter Nambitha Dambuza, sê Pandor se vierjaar-aanstelling weerspieël haar lewenslange toewyding aan onderwys, maatskaplike geregtigheid en openbare diens. Pandor volg Geraldine Fraser-Moleketi op wanneer haar termyn in Maart eindig. Die raad het Fraser-Moleketi geprys oor haar toewyding en diens die afgelope twee termyne.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….