Nuus 13:00
BULLETIN 30 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Angie Motshekga besoek Komatipoort, betreur SANW-tragedie
# ‘n Beskuldigde in die Saulsville-massaskietery laat vaar borgtogaansoek, bly in aanhouding
# En, die Wes-Kaapse Hooggeregshof beslis ten gunste van Cape Town Minstrel Carnival Association
# Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, besoek tans die Komatipoort-grenspos in Mpumalanga na die dood van twee Suid-Afrikaanse Weermaglede wat op Kersdag verdrink het. Die soldate het ‘n oorstroomde brug naby Macadamia Militêre Basis probeer oorsteek tydens grenspatrollies. Een liggaam is gevind, terwyl DNS-toetse op die tweede oorskot aan die gang is. Motshekga sê die verlies word diep deur die nasie gevoel:
# Die beskuldigde in die Saulsville-massaskietery het in die Polokwane-landdroshof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Hy het sy borgtogaansoek laat vaar. Die saak is uitgestel tot 19 Februarie 2026, met die beskuldigde wat in aanhouding bly. Die woordvoerder van die Polisie, Athlena Mathe sê hy sal môre ook in Atteridgeville verskyn op 12 aanklagte van moord en 13 aanklagte van poging tot moord:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het ten gunste van die Cape Town Minstrel Carnival Association beslis en die metro opdrag gegee om ‘n alternatiewe perseel aan die vereniging te voorsien. Die metro het in September sy goedkeuring teruggetrek vir die gebruik van die Vygieskraal-stadion vir die historiese geleentheid. Die motivering was dat die geleentheid as medium-risiko beskou word, terwyl die stadion slegs lae-risiko-geleenthede kan aanbied. Die metro is ook beveel om die vereniging te help om veiligheidsreëls vir geleenthede na te kom. Die vereniging sê die uitspraak is ‘n groot verligting.
# Die Departement van Verdediging en Militêre Veterane sê Suid-Afrika se deelname aan militêre oefeninge met verskeie lande is bedoel om multilaterale en bilaterale betrekkinge te versterk. Die Departement word gekritiseer aangesien Iran, asook Rusland en China, in Januarie in ‘n vlootoefening in Kaapstad sal deelneem. Die DA het vroeër gesê die deelname van Iran en Rusland maak dit toenemend moeilik vir die regering om vol te hou dat Suid-Afrika werklik ‘n beleid van neutraliteit volg. Die Departement het egter beklemtoon dat gesamentlike en multi-nasionale militêre oefeninge belangrik is.
# Sokker: Die adjunkminister van Sport, Kuns en Kultuur, Peace Mabe, het Bafana Bafana gelukgewens met sy vordering na die laaste 16 by die Afrikabekertoernooi in Marokko. Suid-Afrika het Zimbabwe met 3-2 in hul laaste Groep B-wedstryd verslaan om vir die derde agtereenvolgende keer na die uitkloprondes te vorder. Mabe sê die vertoning deur Bafana Bafana dui op gedissiplineerde uitvoering, taktiese organisasie en die vermoë om hoëdruk-kontinentale kompetisies doeltreffend te bestuur. Die adjunkminister het Suid-Afrikaners aangespoor om die span te ondersteun.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-640-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-373-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….