Nuus 13:00
BULLETIN 29 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die TLU SA hernu sy oproep vir belanghebbendes om op te tree teen plaasmoorde
# Die Suid-Afrikaanse ekonomie toon steeds veerkragtigheid ten spyte van uitdagings
# En, bloedige warm en ongemaklike weerwaarskuwing vir dele van die Noord- en Wes-Kaap
# Die TLU SA landbou-organisasie hernu sy oproepe vir dringende samewerking van alle belanghebbendes om plaasmoorde in die land te bestry. Dit volg op die moord op die voorsitter van die African Farmers’ Association of South Africa in KwaZulu-Natal, Mbongeni Skhakhane, in Sweetwaters, Pietermaritzburg gedurende die nag van Tweede Kersdag. Bennie Van Zyl van die TLU SA sê die regering het sy grondwetlike verantwoordelikheid om misdaadvoorkoming te verseker, die afgelope 30 jaar grootliks verwaarloos:
# Econometrix se hoofekonoom, Azar Jammine, sê ondanks Suid-Afrika se wisselvallige ekonomie vanjaar, gekenmerk deur vertraagde begrotingsvoorlegging, het die ekonomie drie agtereenvolgende kwartale van groei aangeteken, danksy die vervaardigings-, mynbou- en handelsektore. Jammine sê ‘verbeterde ‘n gunstiger beleggingsomgewing, ‘n opgradering deur Standard and Poor’s, en Suid-Afrika se verwydering van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys is almal positiewe aspekte. Hy waarsku egter dat strukturele uitdagings steeds voortduur, terwyl die komende plaaslike regeringsverkiesing onsekerheid kan verhoog.
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel bloedige warm en ongemaklike toestande in dele van die Noord- en Wes-Kaap. Uiterste hittetoestande word tot 8-uur vanaand verwag, met dagtemperature wat na verwagting tot die middel tot hoë 30’s sal styg. Die woordvoerder van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Herman Pieters, sê langdurige hitte kan ernstige gesondheidsgevolge inhou, veral vir kwesbare groepe soos bejaardes, jong kinders en persone met onderliggende mediese toestande:
# Iran het in 2025 minstens eenduisend-922 teregstellings uitgevoer, meer as twee keer die aantal wat die vorige jaar aangeteken is en die hoogste getal in meer as ‘n dekade. Dit is volgens die jongste verslag deur die Human Rights Activists News Agency. Minstens tien teregstellings is in die openbaar uitgevoer, met die oorgrote meerderheid wat agter geslote deure plaasgevind het. Die verslag het ook bevind die teregstellings hou oorwegend verband met twee soorte misdrywe. Moordsake het 47,55-persent van die teregstellings verteenwoordig, terwyl 46,1-persent met dwelmoortredings verbind word.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê die span is gereed vir hul laaste Groep B-wedstryd vandag teen Zimbabwe in die Afrikabekertoernooi in Marrakesj, Marokko. ‘n Oorwinning of gelykopuitslag in hierdie wedstryd sal Suid-Afrika na die rondte van 16 laat vorder. Bafana Bafana het hul veldtog met ‘n oorwinning teen Angola begin en toe met 1-0 teen Egipte verloor. Broos sê hulle maak hulle gereed vir ‘n taai wedstryd teen Zimbabwe:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 22-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-444-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-463-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….