Nuus 13:00
BULLETIN 27 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AZAPO doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om beheer terug te neem in die 2026 plaaslikeregeringsverkiesing
# Ernstige weerwaarskuwings is vir 6 provinsies uitgereik
# En rugby: Springbok-skrumskakel Faf de Klerk het ’n nuwe beseringsteruslag
# Terwyl die land voorberei vir die plaaslikeverkiesing in 2026, doen die Azanian People’s Organisation ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om beheer terug te neem, politiek skoon te maak, demokrasie te verdiep en die ekonomie te genees. AZAPO-president, Nelvis Qekema, sê Suid-Afrikaners gaan steeds gebuk onder hoë misdaadsyfers, werkloosheid en ‘n gebrek aan dienslewering. Hy sê dit is hoog tyd dat burgerlike aktivisme en deelnemende demokrasie volwasse word en beheer vat oor die land se politiek:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vandag ‘n aantal geel vlak 2- en 4-waarskuwings uitgereik vir hewige donderstorms, swaar reën, skadelike wind en hael oor ses provinsies. Dit is vir die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Vrystaat, Noordwes, Limpopo en Gauteng met gevolge soos plaaslike oorstromings, infrastruktuurskade, padsluitings en lewensgevaar. Weervoorspeller Leholohonolo Thobela sê die publiek word gemaan om weerwaarskuwings ernstig op te neem:
# Die Departement van Gesondheid sê die aantal tienermoeders het op Kersdag toegeneem van 90 in 2024 tot net meer as 130 vanjaar. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê dit is volgens die volledige aangetekende aantal babas wat op Kersdag regoor die land in openbare gesondheidsfasiliteite gebore is. Hy sê dit is kommerwekkend dat talle tienermeisies so jonk as 15 jaar onder die Kersmoeders is:
# Eskom sê die voortgesette verbetering in die Energiebeskikbaarheidsfaktor het sy afhanklikheid van duur dieselopwekking aansienlik verminder, wat die maatskappy toelaat om meer op koste-effektiewe primêre energiebronne te fokus. Die woordvoerder van die kragverskaffer, Daphne Mokwena, sê geen diesel is die afgelope week gebruik nie. Sy sê die staking van gebruik weerspieël beide die kostebesparings en die operasionele verbeterings wat deur Eskom se ommekeerpogings behaal is:
# Thailand en Kambodja het volgens ‘n gesamentlike verklaring deur beide lande se ministers van verdediging vroeg vanoggend ooreengekom tot ‘n onmiddellike skietstilstand. Hulle sê in die verklaring die twee lande het ooreengekom om van 12 uur af ‘n skietstilstand te handhaaf wat alle soorte wapens insluit, insluitend aanvalle op burgerlike teikens en infrastruktuur sowel as militêre teikens. Die aankondiging kom te midde van vredesgesprekke wat tussen die twee bure gehou is nadat grensspanning vroeër in Desember weer opgevlam het en tientalle lewens geëis het.
# En rugby: Faf de Klerk se terugkeer na Suid-Afrika vir behandeling nadat hy ‘n enkelbesering in Japan opgedoen het, het sy kanse om terug te keer na die Springbok-groep verder geknou. Die 34-jarige skrumskakel is 32 minute in Yokohama Canon Eagles se eerste ronde-nederlaag teen die Shizuoka Blue Revs op 14 Desember beseer na ‘n poging tot ‘n duikslag. Yokohama het vroeër die week bevestig dat die dubbele Wêreldbeker-wenner tydelik aan die Japan Rugby League One-seisoen onttrek het, die derde agtereenvolgende reeks waar sy deelname deur ‘n besering kortgeknip is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….