Nuus 13:00
BULLETIN 24 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SA Raad van Kerke het nuwe hoop vir die jaar wat voorlê
# Die Grensbestuursowerheid verskerp beheer te midde van die feestydbedrywighede
# En, die Oos-Kaapse Valke verwelkom arrestasie van ‘n derde verdagte in die moord op die aanklaer Tracy Brown
# Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke wens landsburgers ‘n vredevolle Kersfees toe saam met familie, en hernude hoop vir die jaar wat voorlê. Die raad se hoofsekretaris, Mzwandile Molo, sê hulle dink met dankbaarheid na oor 2025, maar is ook bekommerd oor die toestand in die land en die wêreld. Hy sê hulle hoop Suid-Afrika sal sy probleme oplos:
# Die Assistent-kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Khuliseni Elijah Luvhengo, sê strenger maatreëls word by grensposte toegepas om die toename in reise tydens die feestyd te bestuur. Beamptes fokus op deeglike beheer om gladde passasiersvloei te verseker. Luvhengo sê meer as honderd mense wat die grens onwettig wou oorsteek, is reeds in hegtenis geneem. Hy doen ‘n beroep op reisigers om dokumente gereed te hê, regulasies te volg en geduldig te wees:
# Die waarnemende provinsiale hoof van die Valke in die Oos-Kaap, Venessa Hastings, het die inhegtenisneming van ‘n derde verdagte in verband met die sluipmoord op die staatsaanklaer Tracy Brown verwelkom. Brown is in Augustus vanjaar voor haar huis in Gqeberha doodgeskiet. Twee ander verdagtes is in aanhouding sedert hul arrestasie in September. Die woordvoerder van die Valke, Ndiphiwe Mhlakuvana, sê die derde verdagte verskyn vandag vir die eerste keer in die hof:
# Drie mense, insluitend twee polisiebeamptes, is vanoggend in ‘n motorbom-ontploffing in Moskou dood. Dit volg dae nadat ‘n senior Russiese generaal Maandag in ‘n motorbomaanval in die hoofstad dood is. Die Russiese Ondersoekkomitee sê ‘n ploftoestel is geaktiveer toe die beamptes ‘n verdagte persoon naby ‘n polisievoertuig in Yeletskayastraat in die suide van die hoofstad genader het. Die komitee sê die voorval word ondersoek met geslote kring-beeldmateriaal wat ook bestudeer word.
# Krieket: Die Engelse snelbouler Jofra Archer is uitgesluit van die res van die reeks om die As teen Australië, nadat hy ‘n besering aan sy sy opgedoen het. Hy sluit aan by Mark Wood, wat verlede maand met ‘n kniebesering huis toe gestuur is. Archer se plek in die groep vir die vierde toets in Melbourne, wat op Tweede Kersdag begin, word deur Gus Atkinson ingeneem, terwyl Ollie Pope deur Jacob Bethell vervang is. Die Engelse se kaptein, Ben Stokes, het Archer geprys en sê sy poging gedurende die afgelope drie toetse, was uitsonderlik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-795-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-485-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….