Nuus 13:00
BULLETIN 20 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Padverkeersbestuurskorporasie doen ‘n beroep op die kansellasie van roekelose bestuurders se lisensies
# Oscar Mabuyane waarsku lede teen eiebelang binne die ANC
# En rugby: Die Springbok-losskakel Sasha Feinberg-Mngomezulu gaan sy Stormers-kontrak verleng
# Die woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie, Simon Zwane, sê strenger strawwe vir dronkbestuur gedurende die feestyd sal ‘n rol speel in die vermindering van padsterftes. Meer as twee-duisend bestuurders is reeds van die land se paaie verwyder sedert die begin van Desember. Alkohol dra by tot ongeveer 30-persent van alle padsterftes. Hy het aan Newzroom Afrika gesê owerhede werk saam met die Departement van Justisie om wetgewing te versterk, insluitend lisensiekansellasies:
Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, is intussen bekommerd oor padsterftes gedurende die feestyd, wat tot dusver op ‘n gemiddeld van 32 per dag staan. In die interim-hersieningsverslag oor padveiligheid sê die minister wetstoepassing is verskerp. Daar was 178 arrestasies vir nalatige bestuur, 53 voetgangers is in hegtenis geneem omdat hulle op snelweë geloop het, terwyl 26 motoriste aangekla is oor beweerde omkopery. Sy sê die arrestasies het op ‘n jaargrondslag met 16-persent toegeneem:
En vyf mense, insluitend ‘n jong meisie, is dood en nege ander beseer in ‘n botsing tussen vier voertuie op die N2 naby KwaMbonambi in KwaZulu-Natal gistermiddag. Nooddienste het gereageer op die toneel waar die vier voertuie teen mekaar gebots het. Een persoon is in ‘n kritieke toestand terwyl ander ernstig beseer is. Owerhede sê die meeste beserings was in ‘n dubbelkajuitvoertuig waarin 12 mense gereis het. Polisie en reddingspanne gaan voort met die ondersoek na die oorsaak van die botsing.
# Die Oos-Kaapse ANC-voorsitter, Oscar Mabuyane, het gewaarsku dat ambisie ‘n kanker is wat die party skade berokken. Mabuyane het lede gekritiseer wat by die ANC aansluit vir persoonlike gewin eerder as dienslewering. News24 berig Mabuyane sê die fokus moet bly op die versterking van takke, diens aan gemeenskappe en die handhawing van die ANC se waardes en doelwitte, eerder as om vinnige persoonlike voordeel te soek. Hy het die belangrikheid van volwassenheid, inklusiwiteit en toewyding aan die party se missie voor belangrike konferensies beklemtoon.
# Die Russiese president Vladimir Putin sê daar sal geen verdere oorloë na Oekraïne wees nie, mits Rusland met respek behandel word. In ‘n televisie-uitsending van byna vier en ‘n half uur, het hy ook bewerings dat Moskou beplan om Europese lande aan te val, as “snert” afgemaak. Vroeër vandeesmaand het Putin gesê Rusland beplan nie om oorlog teen Europa te verklaar nie, maar is voorbereid sou die Europeërs dit wou doen. Net ure na die uitsending het Oekraïne gesê sewe mense is dood en ‘n verdere 15 beseer in ‘n Russiese missielaanval op die land se suidelike Odesa-streek.
# En rugby: Die Springbok-losskakel Sasha Feinberg-Mngomezulu gaan sy Stormers-kontrak van 2027 tot 2029 verleng. Die 23-jarige het ‘n deurbraakjaar beleef en die Suid-Afrikaanse rekord van 37 punte in ‘n toets teen Argentinië opgestel. ‘n Amptelike aankondiging word binnekort verwag wat sy toekoms sal verseker. Intussen is Feinberg-Mngomezulu uitgesluit uit vandag se eerste Verenigde Rugbykampioenskap-derby van die seisoen teen die Lions in Kaapstad, omdat hy ‘n liesbesering opgedoen het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….