Nuus 13:00
BULLETIN 18 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Boubedryf-ontwikkelingsraad rig ‘n waarskuwing oor gebrekkige bouveiligheidsmaatreëls
# Die kabinet stel senior regters aan op die Maatskappye-tribunaal
# En krieket: Stokes en Archer daag die Australiese boulers in Adelaide uit
# Die Boubedryf-ontwikkelingsraad is diep bekommerd oor swak toesig en die nie-nakoming van veiligheidstandaarde. ‘n Tussentydse verslag het bevestig dat die Verulam-tempel wat in Redcliff, KwaZulu-Natal, ingetuimel het, nie aan die vereistes voldoen het nie. Dis tot ‘n misdaadtoneel verklaar nadat vyf mense gesterf het. Uitvoerende hoof Bongani Dladla het aan SABC News gesê behoorlike gesondheids- en veiligheidsdokumentasie sowel as streng nakoming is van kritieke belang om toekomstige tragedies te voorkom:
# Die kabinet het verskeie senior regters aangestel om op die Maatskappye-tribunaal te dien. Hulle sluit in regters Mohammed Navsa, Kathleen Satchwell, Robert Nugent, Boissie Henry Mbha en Visvanathan Ponnan. Die tribunaal sê die regters se uitgebreide regs-ervaring en verbintenis tot geregtigheid sal sy werk op ‘n kritieke tyd versterk. Hy voeg by hulle kundigheid in handelsreg, geskilbeslegting en administratiewe geregtigheid sal arbitrasieprosesse verbeter en toeganklike, doeltreffende en onpartydige geregtigheid vir maatskappye bevorder.
# ‘n Politieke ontleder, Kenneth Mokgathle, sê terrorisme groei reg oor Afrika namate staatsgrepe, korrupsie en swak leierskap nasies blootstel. Volgens die Verenigde Nasies is die Sahel-streek tans verantwoordelik vir 19-persent van terroriste-voorvalle wêreldwyd. Mokgathle sê ekstremistiese organisasies, soos onder meer, Jama’at Nusrat al-Islam wal Muslimeen en die Islamitiese Staat in die Groter Sahara, trek voordeel uit die leemte wat dalende internasionale ondersteuning teen tereur skep:
# Krieket: Engeland het ‘n agterstand van 158 lopies teen Australië na die tweede dag van die derde toets om die As in Adelaide. Die gashere is vanoggend uitgeboul vir 371 nadat Alex Carey 106 aangeteken het. Engeland se kaptein, Ben Stokes, en Jofra Archer het daarna die boulers gefrustreer met ‘n onoorwonne vennootskap van 44 lopies om die negende paaltjie. Hulle staan op 213 vir agt. Die Australiese draaibouler Nathan Lyon het sy 564ste toetspaaltjie ingepalm en sy landgenoot Glenn McGrath verbygesteek op die lys van meeste paaltjies.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-981-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-323-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-67-sent per vat.
# En ter afsluiting: Die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum vra benoemings vir die 28ste NSTF-South32-toekennings, bekend as Suid-Afrika se ‘Wetenskap Oscars’. Hierdie toekennings vier individue en organisasies vir hul uitstekende werk in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en vernuwing. Volgende jaar se tema is Gesonde Veroudering, en gee erkenning aan navorsing en uitvindings wat help om ouer mense se lewens te verbeter. Nuwe toekennings sluit in navorsing-sagteware en menslike taaltegnologieë. Benoemings moet teen 29 Januarie aanlyn geregistreer wees met volledige voorleggings wat teen 5 Maart ingedien moet word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….