Nuus 13:00
BULLETIN 21 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se nuwe Ultimate Fighter-wêreldkampioen sê dit was nie maklik nie
# Cholera versprei na 12 Afrika-lande
# En, sokker: Namibië wil die geskiedenis teen Bafana herskryf
# Ons begin met gemengde gevegskuns: Suid-Afrika se eerste Ultimate Fighter-kampioen, Dricus du Plessis was ekstaties toe hy vanoggend die goue belt as middelgewing UFC-wêreldtitelhouer omhoog gehou het. Hy het die verdedigende kampioen, die Amerikaner Sean Strickland, in ‘n brutale geveg oor vyf rondes in Toronto, Kanada verslaan. Dit het in ‘n verdeelde beslissing in die guns van die Pretorianer geëindig. Du Plessis het na die geveg gesê Strickland se steekhou was soos ‘n rots en dit het hom ‘n tydjie geneem om die Amerikaner op te som:
Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, het Du Plessis gelukgewens met sy verowering van die middelgewig wêreldkampioen-titel. Du Plessis het geskiedenis gemaak as Suid-Afrika se eerste UFC-wêreldkampioen. Die departement se woordvoerder, Litah Mpondwana, sê minister Kodwa het hom ook gelukgewens omdat hy met sy merkwaardige prestasie die vlag omhoog gehou het:
# Die departement van Bosbou, Vissery en die Omgewing het uitstel aan die publiek verleen om hulle kommentaar op die hersiening van die Kuswater-uitlatingspermitte in te dien wat aan visverwerkingsgeriewe in St Helenabaai in die Wes-Kaap uitgereik is. Die datum vir voorleggings is tot 29 Februarie verleng. Die departementele woordvoerder, Peter Mbelengwa, sê die hersieningsproses het ten doel om teenstrydighede in die voorwaardes van die permitte uit die weg te ruim, eenvormigheid te verseker en die geleidelike en volgehoue verbetering van die watergehalte by die kusdorp oor ‘n tydperk van vyf jaar te verseker.
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie se Afrika-streek sê die cholera-uitbreking het na 12 lande op die vasteland versprei. ‘n Veldtog is in Zambië aan die gang om 1,5 miljoen mense, insluitend kinders, gesondheidswerkers en mense met hoë risiko’s van besmetting, in te ent. Meer as 1,4-miljoen cholera-inentingsdosisse is aan die land verskaf om die uitbreking te bekamp. Teen Donderdag is tien-duisend-887 gevalle en 432 sterftes in nege van die land se tien provinsies aangemeld. Die WGO se noodgesondheidsbeampte, Patrick Otim, sê die Lusaka-distrik is die middelpunt van die uitbreking:
# En, sokker: Namibië se hoofafrigter, Collin Benjamin, sê hulle fokus op die hoop en drome van die mense tuis in vanaand se Afrikabekertoernooi-kragmeting teen Suid-Afrika in Ivoorkus. Na hulle historiese oorwinning van 1-0 in hulle openingswedstryd teen die gunstelinge in Groep E, Tunisië, is die Brave Warriors vasberade om na die uitkloprondes deur te dring. Maar hulle weet hulle kom teen ‘n verbete Bafana Bafana te staan wat steeds hulle wonde lek na hulle nederlaag van 2-0 teen Mali in hulle openingswedstryd. Vanaand se afskop is om tienuur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….