Nuus 13:00
BULLETIN 9 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Gautengse departement word gelas om ‘n dekade se NRO-toelaagrekords aan GroundUp beskikbaar te stel
# ‘n Hof verwerp ‘n aansoek om 40-persent van Makate se ‘Please Call Me’-uitbetaling te bevries
# En Mej Jamaika doen bloeding op die brein en ‘n fraktuur op toe sy van die Mej Heelal-verhoog afval
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het gelas die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling moet alle rekords beskikbaar stel van toelaes wat tussen 2014 en 2024 aan organisasies sonder winsbejag toegeken is. Dit volg nadat die nuusorganisasie GroundUp suksesvol appelleer het teen die weiering om die inligting te verskaf. Die dokumente is aangevra ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ná berigte dat sommige organisasies miljoene rand ontvang het terwyl begrotings gesny is. Regters Mark Sher en Melanie Holderness het bevind dat openbare deursigtigheid swaarder weeg as beweerde finansiële skade.
Die Hooggeregshof in Johannesburg het intussen ‘n dringende aansoek verwerp van ‘n derdeparty-befondser, Black Rock Mining, om 40-persent van Vodacom se skikking aan ‘Please Call Me’ se uitvinder, Kenneth Makate, te bevries. Regter Don Mahon het beslis daar is geen bewyse dat Makate beplan om die geld weg te steek of te verkwis nie, en sê enige geskil moet deur die gewone regskanale verloop. Black Rock het Makate se regskoste befonds in ruil vir ‘n aandeel van 40-persent. Die saak word nou verwys vir arbitrasie.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, sê 2025 was ‘n lang, uitdagende jaar, maar daar is terselfdertyd soveel hoogtepunte om te vier. Dit sluit in die #BackOnTrack-program, waartydens sowat 205 dae van leerwerk herwin is wat tydens die Covid-19-pandemie verlore gegaan het, en leerders wat groot oorwinnings op die sportveld behaal het. Skole sluit môre vir die Kersvakansie. Maynier vra die publiek om hul plaaslike skool fyn dop te hou gedurende die vakansietydperk:
Nuus uit die buiteland:
# Die Mej Heelal-organisasie het nuwe besonderhede onthul oor ernstige beserings wat Mej Jamaika in die hospitaal laat beland het. Die organisasie en Gabrielle Henry se gesin het in ‘n gesamentlike verklaring onthul sy het bloeding op die brein, ‘n fraktuur en gesigsbeserings opgedoen toe sy haar bewussyn verloor en deur ‘n opening op die verhoog geval het tydens ‘n vooraf-kompetisie in Bangkok, Thailand, op 19 November. Sy is steeds in ‘n bedenklike toestand. Die organiseerders sê hulle sal alle toekomstige mediese uitgawes weens die voorval dek.
# Krieket: Die Australiese snelbouler, Josh Hazlewood, is weens ʼn besering nie beskikbaar vir die res van die reeks om die As nie. Hy het verlede maand sy dyspier seergemaak in Australië se Sheffield-skildkompetisie. Hazlewood het verlede week nog ʼn terugslag gehad toe hy sy haksening beseer het. Australië loop tans 2-0 voor teen Engeland in die reeks. Hazlewood sê hy is gefrustreerd omdat hy nie kan speel nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-369-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-208-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….