Nuus 13:00
BULLETIN 8 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kaapse Onafhanklikheidsparty sê Suid-Afrika is nou ‘n volwaardige mafia-staat
# ActionSA sê daar is ‘n georganiseerde misdaad-noodtoestand in Gauteng
# En krieket: Australië vergroot sy voorsprong op die Wêreldtoetskampioenskaps-punteleer
# Die Kaapse Onafhanklikheidsparty sê Suid-Afrika is nie meer ‘n mislukte staat nie, maar ‘n volwaardige mafia-staat. Dit volg nadat Marius van der Merwe voor sy huis in Brakpan, Gauteng, doodgeskiet is nadat hy verlede maand voor die Madlanga-kommissie getuig het. Die party se woordvoerder, Frans Martins, sê ondersoekbeamptes, aanklaers, getuies en verklikkers word elke jaar in die land vermoor omdat die stelsel moordenaars beloon en diegene straf wat die waarheid vertel:
ActionSA in Gauteng sê intussen die provinsie beleef ‘n georganiseerde misdaadnoodtoestand en onskuldige gemeenskappe betaal die prys vir die staat se versuim om orde te handhaaf. Dit volg na ‘n skrikwekkende massaskietery die naweek by ‘n taverne in die Saulville Hostel in Atteridgeville in die weste van Pretoria, waarin minstens 12 mense dood en 13 beseer is. ActionSA se woordvoerder, Zwelithini Mtshali, sê inwoners in townships, voorstede en informele nedersettings is onder beleg terwyl misdadigers met toenemende vermetelheid optree:
# Sewe mense is vanoggend dood in ʼn botsing tussen ʼn bakkie en ʼn motor op die N12 tussen Ogies en Emalahleni in Mpumalanga. Owerhede sê een van die bestuurders het beheer verloor, waarna die voetuig in die aankomende baan beland en teen die ander voertuig gebots het. ʼn Woordvoerder van die provinsiale Departement van Gemeenskapsveiligheid, Moeti Mmusi, sê vyf van die slagoffers was in die motor en twee in die bakkie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikaanse State, ECOWAS, het die ontplooiing van soldate na Benin gelas, bestaande uit magte van Nigerië, Sierra Leone, die Ivoorkus en Ghana. Dit volg ná gister se staatsgreeppoging in Benin wat gelei het tot die inhegtenisneming van 13 soldate. Ekowas sê die ontplooiing is om die grondwetlike orde en die integriteit van Benin se grondgebied te bewaar. Die Afrika-Unie het intussen sy sy standpunt van geen-verdraagsaamheid teenoor enige ongrondwetlike regeringsverandering herhaal, ongeag van die omstandighede of regverdiging.
# Krieket: Australië het sy voorsprong in die Wêreld-toetskampioenskap vergroot na ʼn perfekte rekord in sy eerste vyf wedstryde. Die Aussies loop nou 2-0 voor in die reeks om die As nadat hulle Engeland gister met agt paaltjies verpletter het in die tweede toets in Brisbane. Engeland het teruggesak na sewende plek. Die verdedigende kampioen, Suid-Afrika, is steeds tweede met 36 punte na drie oorwinnings en een nederlaag. Sri Lanka is derde, terwyl Pakistan en Indië die top-vyf voltooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-43-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-208-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….