Nuus 13:00
BULLETIN 20 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die regspraktykraad verontagsaam die bevordering van veeltaligheid
# Rugby: Die Stormers-afrigter loof Libbok voor sy 50ste wedstryd
# En, opwinding bou op vir Dricus du Plessis se gemengde gevegskuns-kampioenskapsgeveg in Kanada
# Die Vryheidsfront-Plus het die eis van die Pan-Suid-Afrikaanse taalraad verwelkom dat die Regspraktykraad hulle besluit herroep om nie langer die toelatingseksamens vir prokureurs, notarisse en oordragprokureurs in Afrikaans aan te bied nie. Jaco Mulder van die VF-Plus sê die raad se aankondiging aan die einde van verlede jaar dat alle eksamens van dié jaar af slegs in Engels afgelê word, is in ooreenstemming met sy nuwe taalbeleid wat in November verlede jaar aanvaar is:
# Die Good Party in die Wes-Kaap sê berge vullis is aan die ophoop rondom Kaapstad se informele nedersettings terwyl die stad sy voete sleep om op te tree. Die party het onlangs in ‘n skriftelike versoek aan die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, geëis dat die burgemeesterskomiteelid Grant Twigg onmiddellik geskors word vir sy rol in die ineenstorting van vullisverwyderingsdienste. Lulama Benge van die Good Party sê behalwe dat niemand aanspreeklik gehou word nie, is die stad ook duidelik nie in enige haas om die smerige gevolge van die mislukking te pak nie.
# Die hoofafrigter van die Stormers, John Dobson, is vol lof vir sy Springbok-losskakel, Manie Libbok, wat vandag sy 50ste wedstryd vir die span speel. Die Kaapse span kom vanaand in die Kampioenebeker teen Stade Francais in Parys te staan. Dobson sê Libbok was tot dusver ‘n openbaring sedert hy in 2021 by hulle aangesluit het en hy word net al hoe beter. Dobson het verskeie veranderings aangebring aan die span wat verlede week met Sale Sharks afgereken het en sê hulle kom teen moeilike teenstanders te staan en moet hulle kant bring.
# Gemengde gevegskuns: Suid-Afrikaanse ondersteuners gaan môre vroeg op wees om Dricus du Plessis se groot geveg te sien. Hy kom vyfuur teen Sean Strickland in die middelgewig se Ultimate Fighter-kampioenskap in Toronto, Kanada te staan. Dit is Du Plessis se eerste titelgeveg in die UFC en sy Amerikaanse teenstander is die verdedigende kampioen. Die vegter van Pretoria is onoorwonne sedert hy vir die eerste keer in Oktober 2020 die kryt betree het.
# En, die Padongelukkefonds sê hy gaan ses top provinsiale leerders in die Spesiale Onderwysbehoefte-kategorie met beurse ondersteun om aan tersiêre instellings te studeer. Die beurse dek klasfooie, huisvesting, teksboeke, skryfbehoeftes, mediese uitgawes en ‘n studentetoelaag vir die duur van hulle kursusse terwyl hulle suksesvol is. Die bestuurder van die fonds, Noluthando Mvabaza, sê hulle gaan ook die top drie nasionale leerders met gespesialiseerde skootrekenaars, selfone, oorfone, slim stapkieries en sensors toerus om in hulle spesiale behoeftes te voorsien:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….