Nuus 13:00
BULLETIN 15 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Raad vir Gesondheidsberoepe tree op teen onwettige praktyke in die gesondheidsektor
# Krieket: Die Windies ewenaar amper ‘n wêreldrekord wat 70-jaar gelede opgestel is
# En Kaapstad word die sewende keer aangewys as die beste stad in die wêreld
# Die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe sê hy bly vasbeslote om onwettige praktyke in die gesondheidsektor op te spoor en daarteen op te tree. Vyf onwettige praktisyns is tussen April en Junie vanjaar in hegtenis geneem. In die jongste voorval is ‘n Kongolese burger, Basa Bafumba-Nkoy, vasgetrek wat ongeregistreerd by ʼn gesinspraktyk in Yeoville, Johannesburg, gewerk het. Die raad sê geregistreerde praktisyns moet hulle regs- en etiese verantwoordelikheid respekteer en seker maak slegs gekwalifiseerde en geregistreerde persone werk by hulle praktyke.
# Mpumalanga se LUR vir Onderwys, Cathy Dlamini, is afgedank ná ‘n provinsiale uitvoerende herskommeling te midde van korrupsiebewerings. Die EFF het ‘n korrupsiesaak teen haar aanhangig gemaak waarin beweer word sy het diensverskaffers 600-duisend-rand se omkoopgeld gevra vir tenders vir skoolvoeding en die onderhoud van geboue. Dlamini ontken dit en sê die bewerings het ontstaan weens verset teen pogings tot staatskaping deur ‘n opposisieleier. Lindi Masina is aangestel as die nuwe LUR. Sy was ‘n speaker in Mpumalanga se wetgewer en is die voormalige burgemeester van die Govan Mbeki-munisipaliteit.
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse minister van Energie en Klimaatsverandering, Ed Miliband, sê die jongste klimaatverslag is ‘n duidelike waarskuwing oor die dringendheid om klimaatsverandering aan te pak. Die verslag bevestig dat die Verenigde Koninkryk se klimaat aansienlik verskil van vorige dekades, met uiterste hitte en reënval wat algemeen word as gevolg van mensgemaakte aardverwarming. Die verslag dui ook aan dat Britse seevlakke vinniger styg as die wêreldgemiddeld. Miliband het in die Parlement die regering se verbintenis tot die aanpak van klimaatsverandering beklemtoon:
# Krieket: Australië het 3-0 skoonskip gemaak in die toetsreeks teen die Windies toe hulle die gashere in die laaste wedstryd in Kingston, Jamaika, vir slegs 27 uitgeboul het. Dit is slegs een lopie meer as Nieu-Seeland se rekord in 1955. Mitchell Starc het die meeste verwoesting aangerig en ‘n wêreldrekord opgestel vir die vinnigste vyf paaltjies nadat hy net 15 aflewerings nodig gehad het om dit reg te kry. Sy finale syfers was ses paaltjies vir nege lopies, met Australië wat met 176 lopies gewen het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-928-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-363-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-72-sent per vat.
# En laastens, Telegraph se lesers het Kaapstad weer aangewys as die beste stad ter wêreld in 2025 se Telegraph-reistoekennings. Meer as 20-duisend reisigers uit die Verenigde Koninkryk het deelgeneem en die sewende keer dié gesogte titel aan die Moederstad toegeken. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê Kaapstad word geloof vir sy pragtige natuurskoon en opwindende stadslewe waarby min ander bestemmings kan kers vashou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….