Nuus 13:00
BULLETIN 4 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Internasionale Betrekkinge gaan vroeg volgende jaar ‘n nuwe beleidsdokument oor Israel aan die kabinet voorlê
# Gholf: Daar is groot verwagtinge van die 12 Suid-Afrikaners in die Nedbank-uitdaagtoernooi
# En ‘n wasbeer breek in by ‘n drankwinkel in Virginië, Amerika, en raak dronk
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge gaan vroeg volgende jaar ‘n nuwe besprekingsdokument oor Israel aan die kabinet voorlê. Direkteur-generaal Zane Dangor het aan parlementslede gesê dit sit Suid-Afrika se wettige pligte rakende Israel se oortredings van internasionale reg uiteen. Die EFF het intussen die regering onder druk geplaas oor vertragings met die instel van ‘n parlementêre besluit om Suid-Afrika se ambassade in Tel Aviv te sluit. Amptenare sê hoewel daar geen diplomatieke personeellede is wat polities werk nie, handhaaf Suid-Afrika steeds noodsaaklike konsulêre dienste weens reisvereistes in die streek.
# Die Pretoriase Gespesialiseerde Handelshof het die saak teen die leier van die Internasionale Pinkster-Heiligheidskerk, Michael Sandlana, tot 6 Maart uitgestel. Hy was nie gereed om met sy borgtogaansoek voort te gaan nie. Sandlana en drie ander, insluitend ‘n regter van die Hooggeregshof in Pretoria, Portia Phahlane, staan tereg op 19 aanklagte van korrupsie. Lumka Mahanjana van die Nasionale Vervolgingsgesag sê Sandlana bly in aanhouding, terwyl die ander drie onder streng voorwaardes op borgtog vrygelaat is:
# Die Stad Tshwane sê spanne reageer flink op voorvalle van oorstromings, kragonderbrekings en skade veroorsaak deur die huidige hewige weersomstandighede. Pretoria-Noord het die meeste deurgeloop. Burgemeester Nasiphi Moya se woordvoerder, Zintle Mahlati, sê meer as 100 weerverwante voorvalle is oor die hele metro aangemeld:
# Gholf: Twaalf Suid-Afrikaners neem van vandag deel aan die Nedbank-uitdaagtoernooi op die Gary Player-buiteklub in Noordwes. Verwagtinge is hoog, met die groep wat ‘n mengsel van ervare aanspraakmakers en belowende nuwelinge bevat. Ses spelers, insluitend die PGA-toerwenner Garrick Higgo en die amateur-uitblinker Christo Lamprecht, speel die eerste keer in die toernooi, met prysgeld van 102-miljoen-rand. Hulle sluit aan by gesoute veterane soos Christiaan Bezuidenhout en Thriston Lawrence, wat almal gaan probeer om die eerste plaaslike wenner te word sedert Branden Grace in 2017.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-443-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-189-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-70-sent per vat.
# En ter afsluiting: ‘n Wasbeer het in die vroeë oggendure by ʼn drankwinkel in Virginië, Amerika, ingebreek en heeltemal hoenderkop geraak. Die diereskuiling in die Hanover-distrik sê die dier het eers die rakke geplunder en toe in sy dronkenskap in die badkamer aan die slaap geraak. Die skuiling sê die wasbeer het na ʼn paar ure se slaap wakker geword sonder enige sigbare beserings, behalwe dalk met babbelas en ʼn skuldgevoel oor swak lewenskeuses, en is weer in die natuur vrygelaat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….