Nuus 13:00
BULLETIN 1 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile sê die G20-uitkomste beklemtoon Afrika se voorkeure
# China gelas ‘n inspeksie van brandveiligheid-standaarde in hoë geboue na die verwoestende brand in Hongkong
# En atletiek: Duplantis en McLaughlin-Levrone is die Wêreldatlete van die Jaar
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die G20-leiersberaad het die belange van Afrika en die Globale Suide in die middelpunt van wêreldwye besluitneming geplaas. Hy het die 58ste algemene vergadering van die Suider-Afrika-ontwikkelingsgemeenskap se parlementêre forum toegespreek. Mashatile het verskeie verbintenisse van G20-leiers uiteengesit, insluitend steun vir skuldbehandeling-hervormings, verbeterde verteenwoordiging van Afrika suid van die Sahara binne die Internasionale Monetêre Fonds, en wêreldwye hernubare energieteikens:
# Die Departement van Water en Sanitasie het die Jagersfontein-myn in die Vrystaat toegelaat om voort te gaan met bedrywighede ondanks ‘n verdoemende verslag daarteen. Dit het gebeur voor die myn se dam in 2022 meegegee en gelei het tot die dood van twee mense, terwyl een steeds vermis word. Die verslag het onthul dat die bestuur moontlik van strukturele gevare geweet het, en dat die dam gebou is sonder ‘n geregistreerde ingenieursonwerp. Amptenare noem ekonomiese kommer, terwyl strafregtelike aanklagte in die Vrystaatse Hooggeregshof voortduur.
# Die Gautengse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling het honderdduisende rand bestee om ‘n eis van 150-duisend-rand te betwis vir ‘n waarnemingstoelaag aan ‘n voormalige werknemer van die Gautengse Dobbelraad, Lucky Lukhwareni. LUR Lebogang Maile het onthul dat die Arbeidshof die departement se saak op 18 Augustus van die hand gewys het. DA-woordvoerder Mike Moriarty het die hofsaak as verkwistend en oneties beskryf en sê die uitgawe is onaanvaarbaar terwyl provinsiale dienste sukkel om in burgers se behoeftes te voorsien:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Landwye inspeksie van brandveiligheid-standaarde in hoë geboue sal in China uitgevoer word ná verlede week se brand in Hongkong waarin minstens 128 mense gesterf het. Dit het ten doel om alle soortgelyke rampe op die vasteland te voorkom. Die brand het sewe van die agt woonstelgeboue van 32-verdiepings in ‘n kompleks verswelg wat met steierwerk van bamboes opgeknap en polistireen-isoleringsmateriaal bevat het. Die Ministerie van Noodbestuur sê spesiale aandag sal gegee word aan geboue wat opknappings aan buitemure en binnenshuise veranderings ondergaan.
# Atletiek: Mondo Duplantis is die derde keer as Mans-wêreldatleet van die Jaar gekroon op Wêreldatletiek se toekenningsgeleentheid in Monaco. Die Sweedse paalspringer het vanjaar vier wêreldrekords opgestel en was onoorwonne in 16 kompetisies. Hy het ook die mans-veldtoekenning gewen. Die Amerikaanse naelloopsensasie Sydney McLaughlin-Levrone het die Vroue-wêreldatleet van die Jaar-toekenning gewen. Sy was vanjaar in Tokio die eerste vrou sedert 1985 wat die 400-meter onder 48-sekondes kon aflê. Emmanuel Wanyonyi van Kenia het die mans-baantoekenning gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-715-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-248-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….