Nuus 13:00
BULLETIN 28 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cachalia sit planne uiteen vir die professionalisering van die Polisiediens
# Die dodetal in die verwoestende brand in Hongkong styg tot 128
# En krieket: Cummins en Hazlewood gaan ook die tweede toets om die As teen Engeland misloop
# Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, sê die professionalisering van die Polisiediens is noodsaaklik vir die herstel van openbare vertroue en om te verseker dat beamptes sonder politieke invloed optree. Hy het tydens die vrystelling van misdaadstatistieke vir die eerste en tweede kwartaal beklemtoon integriteit is sentraal tot openbare veiligheid. Cachalia bevestig dat verklikker-beskerming versterk sal word deur wetgewing van die Departement van Justisie, en meen die ondersoeke van die Madlanga-kommissie en die parlementêre ad hoc-komitee sal wetstoepassings-hervormings lei:
# Aluma Capital se hoof-ekonoom, Frederick Mitchell, sê die ekonomiese gevolge van die gespanne verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika sal waarskynlik binne 12 tot 24 maande duidelik word. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het dié week verklaar Suid-Afrika sal nie genooi word na volgende jaar se G20-leiersberaad in Florida nie weens beweerde volksmoord teen Afrikaners. Mitchell sê Suid-Afrika staan voor ‘n kritieke kruispad – of hy binne die G20-raamwerk moet bly of nuwe weë moet baan in internasionale handelsnetwerke. Hy sê die behoefte aan uitgebreide vennootskappe is belangriker as ooit.
# Die metaalwerkersvakbond Numsa het Eskom se aanbod van ‘n verhoging van 3,5-persent van die hand gewys en gesê werkers verdien beter. Die vakbond eis onder meer ‘n algehele verhoging van 15-persent, ‘n behuisingstoelaag van sewe-duisend-rand en ‘n werkgewerbydrae van 80-persent tot mediese skemas. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê hul eise weerspieël die buitengewone bydrae van werkers wat bestendigheid en winsgewendheid vir Eskom lewer:
Nuus uit die buiteland:
# Die dodetal in Hongkong se ergste brand in byna 80-jaar het tot 128 gestyg terwyl sowat 200 mense nog vermis word. Die woonstelkompleks in die Chinese gebied is Woensdag in vlamme gehul. Die Wang Fuk-ontwikkeling in die noordelike distrik Tai Po bestaan uit agt toringgeboue van 32 verdiepings elk. Die stad se sekerheidshoof, Chris Tang, het aan die media gesê die brandalarms het nie behoorlik gewerk nie. Reddingspogings is nou afgehandel. Minstens 79 mense, insluitend 12 brandbestryders, is beseer.
# Krieket: Australië sal weer sonder kaptein Pat Cummins en Josh Hazlewood wees vir die tweede toets om die As teen Engeland, wat Donderdag in Brisbane begin. Die snelboulers het nog nie van langtermynbeserings herstel nie. Die gashere het dieselfde groep behou wat die eerste toets in Perth met agt paaltjies gewen het, en sal weer deur die veteraankolwer Steve Smith aangevoer word. Mitchell Starc, Scott Boland en Brendan Doggett sal die snelboulaanval lei. Krieket Australië sê Cummins sal weer saam met die groep reis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-579-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-161-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….