Nuus 13:00
BULLETIN 25 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Korrektiewe Dienste verskerp veiligheidsmaatreëls in die Kgoši Mampuru-gevangenis voor “Cat” Matlala se getuienis
# TLU SA sê boere maak gereed vir buitengewone reënval
# En tennis: Die hoof van ITF glo ‘n nuwe geslag uitdagers sal na vore kom ondanks Sinner en Alcaraz se oorheersing
# Die Departement van Korrektiewe Dienste sê veiligheidsmaatreëls is aansienlik verskerp in die Kgoši Mampuru-gevangenis in Tshwane voor môre se sitting van die Parlement se ad hoc-komitee wat getuienis van Vusimuzi “Cat” Matlala sal aanhoor. Hy is verhoorafwagtend op verskeie aanklagte, insluitend sameswering om moord te pleeg. Die departement se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, het aan Newzroom Afrika gesê streng maatreëls is getref om die veiligheid van die komiteelede te verseker:
# Die landbou-organisasie TLU SA sê boere staal hulle vir ‘n seisoen met bogemiddelde reënval. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se weervooruitsigte vir die seisoen, word bogemiddelde reënval hierdie somer in die noordoostelike streke van die land verwag. Dele van Mpumalanga en Limpopo sal in hierdie tydperk minder reën as gewoonlik kry. TLU SA se woordvoerder, Bennie Van Zyl, sê solank boere genoeg reën op die regte tyd kry, sal hulle seisoen voorspoedig wees:
Nuus uit die buiteland:
# Israel se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Danny Danon, sê sy land sal nie huiwer om onmiddellike bedreigings vir sy burgers en soldate uit te skakel nie. Dit volg teen die agtergrond van Gaza se brose wapenstilstand. Danon sê die Palestynse Owerheid het versuim om ekstremiste te konfronteer en beklemtoon terreurgroepe is openlik bedrywig. Hy voeg by Israel sal moet ingryp om beslag te lê op wapens wat die owerheid ignoreer en om terroriste te ontwapen:
# Tennis: Die uitvoerende hoof van die Internasionale Tennisfederasie, Ross Hutchins, glo ‘n nuwe groep uitdagers sal na vore kom ondanks Jannik Sinner en Carlos Alcaraz se huidige oorheersing. Die Italianer en die Spanjaard, albei in hul vroeë twintigs, het tussen hulle die afgelope twee jaar al agt Grand Slam-toernooie gewen. Hutchins verwys na ‘n opkomende talent soos die 19-jarige Brasiliaan Joao Fonseca, wat verlede maand sy tweede toervlaktitel in Basel, Switserland, gewen het, en sê dit bewys die volgende geslag klop aan die deur.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-818-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-126-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-26-sent per vat.
# En laastens: Die Wes-Kaapse regering het ‘n sprankelende reeks kulturele en toerisme-geleenthede onthul wat na verwagting die komende weke duisende besoekers sal lok. Hoogtepunte sluit in die Mitchells Plain-fees, MosJazz in Mosselbaai, die George-fees, die Cederberg-fees en die internasionale Italiaanse Film Focus. Die LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, sê die geleenthede hef gemeenskappe op, ondersteun klein ondernemings en skep werksgeleenthede. Die provinsie sal ook volgende naweek die Kaapstadse sewes-rugbytoernooi aanbied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….