Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# NSFAS handel die betaling van meer as nege-duisend uitstaande toelaes suksesvol af
# ‘n Kenner sê onderwys-ongelykheid bly ‘n uitdaging
# En, krieket: Die Jong Proteas speel teen die Windies aan die begin van die Onder-19 Wêreldbekertoernooi
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente sê hy is besig om die uitbetaling van uitstaande toelaes vir die 2023 akademiese jaar af te handel. Die skema sê van die 20-duisend uitstaande toelaes is nege-duisend-128 reeds afgehandel. Die woordvoerder van NSFAS, Ismael Mnisi, sê die oorblywende elf-duisend toelaes ontvang tans dringend aandag en sal as deel van 2024 se gewone uitbetalingsproses betaal word:
‘n Professor in Praktyk aan die Universiteit van Johannesburg, Mary Metcalfe, sê intussen onderwys-ongelykheid bly ‘n aanhoudende uitdaging. Metcalfe het dit in ‘n onderhoud met die SABC toegeskryf aan die voortslepende nalatenskap van apartheid. Sy het aangedui faktore wat hiertoe bydra, sluit in ongelykhede in hulpbronne tussen skole in ekonomies benadeelde gebiede en dié in ryker streke, ongelyke befondsing, verswakkende infrastruktuur en oorvol klaskamers. Metcalfe sê dis van deurslaggewende belang om hierdie ongelykhede aan te pak ten einde ‘n regverdiger onderwysstelsel te bereik:
# Airlink het bevestig een van sy vliegtuie was gistermiddag betrokke by ‘n voorval met ‘n nat aanloopbaan tydens die landing by Pemba in Mosambiek. Die Embraer 135-streekstraler, wat as vlug 4Z 204 vanaf Johannesburg bedryf word, het 32 passasiers en drie bemanningslede aan boord gehad. Geen beserings is aangemeld nie. Die lughawe-operateur het intussen die aanloopbaan gesluit, en Mosambiek se Direktoraat van Lugongeluk-ondersoeke sal ‘n formele ondersoek na die voorval doen.
# Krieket: Die Onder-19 eendag-Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika het afgeskop met twee wedstryde wat gelyktydig gespeel word. Die gashere speel in Potchefstroom teen die Windies terwyl Ierland en Amerika sake uitspook in Bloemfontein. Die 16 spanne ding mee in vier groepe, met die jong Proteas wat ook teen Engeland en Skotland te staan kom. Die top drie spanne na die groepfase speel dan in twee groepe in die Super Ses, gevolg deur die halfeindstryde en die eindstryd. Die spanne wat onderaan eindig kom dan in uitspeelstryde te staan om te bepaal wie 13de tot 16de eindig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-310-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-29-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-40-sent per vat.
# Ten slotte: Die organisasie sonder winsbejag, Kids-Can, maak gereed vir ‘n buitengewone reis wat ʼn lewensveranderende uitwerking gaan hê. Die stigter en kanker-oorwinnaar, Kaashief Lakay, gaan in September ʼn fietsry-tog van Kaapstad tot Botswana aandurf. Hy wil een-miljoen-rand insamel om kinders wat kanker het en uit arm gemeenskappe kom, te ondersteun. Lakay sê die doelwit is nie net om bewustheid oor kinder-kanker te skep nie, maar ook om noodsaaklike hulpbronne soos kos, slaapplek en vervoer aan families in nood beskikbaar te stel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….