Nuus 13:00
BULLETIN 24 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die oorhandiging van die G20-presidentskap aan Amerika gaan sonder seremonie wees
# Drie veiligheidswagte sterf in ‘n vermeende terreuraanval in Pakistan
# En rugby: Malcolm Marx sê sy Speler van die Jaar-toekenning behoort aan die hele span
# Die direkteur-generaal van Internasionale Betrekkinge, Zane Dangor, sê Suid-Afrika sal waarskynlik môre in Pretoria die G20-presidentskap aan Amerika oorhandig. Minister Ronald Lamola het Saterdag gesê aangesien Amerika slegs ‘n junior ambassade-amptenaar aangewys het, sal Suid-Afrika dit ewenaar ná die Amerikaanse president, Donald Trump, se afwesigheid by die beraad in Johannesburg. Dangor het aan Newzroom Afrika gesê daar sal geen formele seremonie wees nie:
President Cyril Ramaphosa het intussen gesê die sukses van die G20-leiersberaad, ‘n verbetering in die prestasie van die ekonomie en groeiende vertroue in die hervormingsprogram, toon Suid-Afrika se toenemende vordering. Die beraad is afgesluit met ‘n leiersverklaring wat met ‘n oorweldigende konsensus aangeneem is. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die land se G20-presidentskap is gewortel in die oortuiging dat die wêreld meer solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid benodig. Hy sê ook die regering het ooreenkomste bereik wat elke Suid-Afrikaner sal bevoordeel.
# Professor Oscar van Heerden van die Universiteit van Johannesburg sê Afrika is meer as net ‘n mark. Dit volg te midde van die Afrika-Unie-Europese Unie-beraad wat vandag in Luanda, Angola, begin. Van Heerden het in ‘n onderhoud met SABC News gewaarsku die toekoms van die vasteland hang af van strategiese besluite deur Afrika-leiers, te midde van die Afrika-vryhandelsooreenkoms. Hy vra dat regerings beslissend optree om Afrika as ‘n ernstige, mededingende vennoot in globale handel te hanteer:
# Selfmoordbom-aanvallers het vanoggend ‘n paramilitêre hoofkwartier in Peshawar, Pakistan, geteiken en drie veiligheidswagte doodgeskiet. Minstens 12 mense is gewond. Volgens amptenare is een van die aanvallers dood nadat ‘n ploftoestel geaktiveer is by die hoofhek van die kompleks naby die grens met Afganistan. Die polisie het twee ander aanvallers doodgeskiet. Pakistanse owerhede het die aanval as ‘n gefnuikte terroristekomplot beskryf. Geen militantegroep het tot dusver aanspreeklikheid aanvaar nie.
# Rugby: Die Springbok-haker Malcolm Marx sê sy aanwysing as Wêreldrugby se Speler van die Jaar laat hom nederig voel. Die 31-jarige het sy landgenote Pieter-Steph du Toit en Oche Nché om die toekenning uitgestof, asook Louis Bielle Biarrey van Frankryk. Die dubbele Wêreldbekerwenner is ook die eerste haker wat die toekenning verower sedert Keith Wood die eerste een in 2001 ingepalm het. Marx sê die toekenning behoort ook aan die hele span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-993-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-71-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….