Nuus 13:00
BULLETIN 20 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa lei die driesydige leiersvergadering tussen Suid-Afrika en die Europese Unie
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie kritiseer Mogotsi oor die verontagsaming van sy eed
# En rugby: Die Bokke speel Saterdag teen Ierland in hulle Groen en Goud
# President Cyril Ramaphosa lei vanmiddag ‘n drieledige leiersvergadering tussen Suid-Afrika en die Europese Unie in die Sandton-konvensiesentrum in Johannesburg. Die ontmoeting is deel van die strategiese vennootskap tussen Suid-Afrika en die EU, wat Suid-Afrika se grootste handelsvennoot en belangrike bron van regstreekse buitelandse belegging is. Die Presidensie sê die vergadering behoort samewerking te bevorder in ‘n wye reeks voorkeurgebiede. Dit sluit in handel en belegging, makro-ekonomiese beleid, klimaatsverandering, energie-sekerheid, digitale hervorming en globale bestuurshervorming.
# Ekonome is verdeeld oor of die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee die terugkoopkoers op sewe-persent sal hou of verlaag. Die MBK sal na verwagting vanmiddag sy finale rentekoersbesluit vir die jaar aankondig. Inflasie het in Oktober tot 3,6-persent gestyg, net bo die 3,4-persent in September. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, en sekere ekonome verwag ‘n verlaging van 25-basispunte, maar die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê toekomstige bewegings sal afhang van inflasieneigings en wêreldwye ekonomiese toestande.
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie, regter Mbuyiseli Madlanga, het die polisie-informant Brown Mogotsi skerp gekritiseer nadat hy erken het hy het onder eed gelieg. Mogotsi het in ‘n vals beëdigde verklaring teenoor ‘n polisiebeampte beweer hy het in die Ministerie van Polisie gewerk om ‘n geheime operasie te ondersteun. Madlanga sê sy getuienis toon minagting vir die waarheid. Hy voer aan misleiding was deel van Mogotsi se werk, maar in hierdie geval verwerp hy alle regverdiging daarvoor:
# SANParke sê die verslag van die Red Tafelberg-koalisie oor misdaadsyfers van die Tafelberg Nasionale Park is misleidend. Woordvoerder JP Louw sê geen amptelike misdaadsyfers is bekend gemaak nie. Hy sê objektiewe openbare verslae wys daar was vroeër vanjaar ‘n toename in misdaad in een van Suid-Afrika se gewildste toerisme-bestemmings, maar dit is nou bestendig op minder as tien voorvalle:
# Rugby: Die Springbokke gaan in hulle tradisionele Groen en Goud speel in Saterdag se toets teen Ierland in Dublin. Hulle het in hulle alternatiewe wit truie gespeel in hulle vorige toerwedstryde teen Frankryk en Italië. Ierland gaan wit truie dra in plaas van hulle gewone heldergroen. Die spanne het gekies om die ou tradisie te volg van die tuisspan wat sy alternatiewe uitrusting dra wanneer die truie se kleur ooreenkom. Die Bokke het hulle alternatiewe wit truie gedra in verlede jaar se twee toetse teen Ierland in Suid-Afrika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-815-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-61-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….