Nuus 13:00
BULLETIN 17 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inligtingsreguleerder gelas die vrystelling van Jacob Zuma se belastingrekords
# Ramaphosa sê sleutel-ekonomiese aanwysers dui op herstel in die ekonomie
# En rugby: Eddie Jones vra Wêreldrugby om op te tree teen belaglike rooikaarte
# Die Inligtingsreguleerder het die Inkomstediens opdrag gegee om oudpresident Jacob Zuma se belastingrekords te openbaar. Daar is bevind die Ontvanger het geen regsgrondslag gehad om toegang te weier nie ná ‘n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting. Die rekords het betrekking op die belastingjare 2010 tot 2018. Die reguleerder sê wetgewing laat nie absolute inligting-geheimhouding toe nie, veral nie waar oortreding vermoed word nie. Hy is bekommerd oor baie instellings wat steeds versuim om PAIA-handleidings toeganklik te maak en sê dis ‘n strafregtelike oortreding.
# President Cyril Ramaphosa sê die regering sal met die komende G20-beraad ‘n land en ekonomie wys wat aan die opbloei is. Hy skryf dit toe aan Standard and Poor‘s wat Suid-Afrika se soewereine kredietgradering die eerste keer in byna ‘n dekade opgradeer het, en die werkloosheidsyfer wat tot 31,9 persent gedaal het. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die land het koers gehou met sy ekonomiese herstel ondanks aansienlike teëspoed, insluitend ‘n uitmergelende energiekrisis en ‘n moeilike wêreldhandelsomgewing, en dit werp nou vrugte af.
# Die DA-lid, Willie Aucamp, is ingehuldig as die nuwe minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing. Hy vervang Dion George van dieselfde party. Die DA se voormalige nasionale verteenwoordiger vir Maatskaplike Ontwikkeling, Alexandra Abrahams, het die amp as adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging aanvaar. Sy vervang Andrew Whitfield, wat in Junie verwyder is ná ‘n ongemagtigde internasionale reis na Amerika. Ramaphosa het die nuut-aangestelde leiers alle sukses toegewens.
# Die Departement van Water en Sanitasie het ‘n streng waarskuwing uitgereik aan lede van die publiek om weg te bly van riviere, strome en ander watermassas tydens die aanhoudende swaar reën in dele van die land. Dit is omdat watervlakke wat vinnig styg en sterk strome aansienlike gevare inhou. Die departement se woordvoerder, Mandla Mathebula, sê die uitvloei van water uit die Vaal- en Bloemhofdamme is intussen verhoog:
# Rugby: Japan se hoofafrigter, Eddie Jones, het Wêreldrugby se huidige dissiplinêre raamwerk gekritiseer ná sy span se naelskraapse nederlaag van 24-23 teen Wallis in Cardiff. Drie Japanese spelers het geelkaarte gekry, terwyl die Walliese vleuel, Josh Adams, se geelkaart verander is na ‘n rooie weens gevaarlike spel. Jones beskryf ook die Springbok-slot Franco Mostert se rooikaart vir ‘n gevaarlike duikslag op Italië se losskakel, Paolo Garbisi, as belaglik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-694-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-83-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….