Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Regsgeding oor handtekeningvereistes vir partye sonder verteenwoordiging bekommer die OVK
# Brandbestryders spook om ‘n brand op Paarlberg te blus
# En, krieket: Die Proteas-vroue is op pad na Australië
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê die handtekeningvereistes om aan vanjaar se verkiesing deel te neem, bly omstrede. Die dinkskrum The Rivonia Circle en Build One South Africa is hof toe oor die gelyke handtekeningvereistes vir nuwe politieke partye of dié wat nie in die provinsiale wetgewers en Nasionale Vergadering verteenwoordig word nie. Die OVK se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, sê terwyl die saak in die hof is, hou die kommissie sy platform oop sodat politieke partye sonder verteenwoordiging hulle handtekeninge kan indien:
# Brandbestryders in die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap spook om ‘n brand op Paarlberg in die Paarl te blus. Dit volg nadat brandspanne gister brande bokant Kalkbaai en Franschhoek in bedwang gebring het. Die woordvoerder van die munisipaliteit, Jo-Anne Otto, sê die brand op Paarlberg brand buite beheer:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Ebrahim Patel, het samesprekings gevoer met Katar se minister van Buitelandse Sake en Internasionale Samewerking, Lolwah bint Rashid Al Khater, by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland. Al Khater het Suid-Afrika geloof vir sy pogings ten opsigte van die Palestynse kwessie, veral sy pionierswerk om rigting te gee aan internasionale posisies teenoor die oorlog in die Gaza-strook. Die ministers het gedurende die vergadering die kwessie van samewerkende verhoudings tussen die twee lande bespreek, asook verskeie onderwerpe van gemeenskaplike belang.
# Krieket: Die Protea-vrouespan is op pad na Australië vir ‘n geskiedkundige veelformaattoer. Dit bestaan uit drie T20’s, drie eendagwedstryde en een toets in Perth. Die eerste groep het gister vertrek en die tweede groep vlieg vandag. Suid-Afrika speel Woensdag ʼn opwarmingswedstryd en die T20-reeks begin op die 27ste in Canberra. Laura Wolvaardt wat die Proteas sal aanvoer, sê hulle is opgewonde oor die toer:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 24-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-766-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-10-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-2-sent per vat.
# En ten slotte: Die Vryheidsfront Plus in Tshwane sê dis tyd vir ʼn multisektorale benadering deur die regering, gemeenskappe en onderwysinstellings om die ingewikkelde probleem van tienerswangerskappe aan te pak. Verlede jaar is vier-duisend-444 tienerswangerskappe net in die metro by openbare gesondheidsgeriewe aangemeld. Die nasionale syfer vir 2022/23 staan op 88-duisend-122. Rina Marx van die VF Plus sê hulle sal saam met die Departement van Gesondheid, die burgerlike samelewing en nieregeringsorganisasies werk om bewustheid te skep oor tienergesondheid en die gevare wat met tienerswangerskappe gepaard gaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….