Nuus 13:00
BULLETIN 11 November 13 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sewentien Suid-Afrikaanse mans wat na die oorloggeteisterde Oekraïne gelok is word met die MK-party verbind
# Die polisie beklemtoon die uitgelewerde Nzimande-broers hou ‘n groot gevaar vir die samelewing in
# En rugby: Lood de Jager verskyn voor ‘n tugkomitee na sy rooikaart teen Frankryk
# Sewentien Suid-Afrikaners wat in die oorloggeteisterde Donbas-streek in die ooste van Oekraïne vasgekeer is, is volgens berigte deur Jacob Zuma se MK-party na Rusland gestuur. Die regering het verlede week noodoproepe van die mans ontvang, wat gelok is om by huursoldaatmagte aan te sluit onder die voorwendsel van winsgewende werkskontrakte. Volgens News24 het die mans gedink hulle gaan as lyfwagte vir MK opgelei word. Zuma smeek in ‘n brief aan Rusland se minister van Verdediging, Andrey Belousov, dat die mans uit die oorlogsone verwyder moet word.
# Die polisie sê die moordverdagte broers Siyabonga en Malusi Nzimande, wat vanoggend uit Eswatini uitgelewer is, hou ‘n groot gevaar vir die samelewing in. Woordvoerder Athlenda Mathe sê die polisie het sterk bewyse wat hulle met drie moordsake verbind, insluitend dié op die kletsrymer Kiernan ‘AKA’ Forbes en Tebello ‘Tibz’ Motsoane. Mathe beskryf hulle as huurmoordenaars wat agter tralies moet bly. Sy het bevestig sewe beskuldigdes is nou in aanhouding en geen verdere inhegtenisnemings word verwag nie:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het Mugwena Maluleke aangestel as waarnemende raadsvoorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Hy dien tans as adjunkpresident van Onderwys Internasionaal en as Sadou se hoofsekretaris. Die departement se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê Maluleke se aanstelling verseker kontinuïteit en bestendigheid terwyl die minister voortgaan met ‘n selfhersienings-hofaansoek om die raad se aanstellingsproses te reguleer:
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdiens het vordering gemaak om die brand in Cogmanskloof bo Ashton en Montagu in bedwang te hou. Die brand het Donderdagmiddag in die veld bo Zolani uitgebreek en aanvanklik na Cape Nature se grondgebied op die bergspits versprei voor dit na Montagu se kant van die berg beweeg het. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê die brandlyn bo Montagu se hospitaal is onder beheer en opruiming is aan die gang.
# Rugby: Die Springbok-slot Lood de Jager verskyn vandag voor ‘n dissiplinêre paneel na sy omstrede permanente rooikaart teen Frankryk verlede naweek. Hy is net voor rustyd afgestuur nadat sy skouer die Franse heelagter Thomas Ramos se kop getref het, maar die Bokke het steeds ‘n oortuigende oorwinning van 32-17 behaal. Sommige kenners meen dit moes ‘n 20-minuut rooikaart gewees het, want Ramos het gesak net voor De Jager hom getref het. Skeidsregter Angus Gardner is uiteindelik deur sy hulpskeidsregters oortuig om De Jager permanent af te stuur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-300-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-143-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….