Nuus 13:00
BULLETIN 8 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VSA weier om die G20 Gesondheidswerkgroep se voorstelle te onderskryf
# Die ANC waarsku Suid-Afrikaners teen aansluiting by militêre magte in buiteland
# En, TLU SA vra ‘n praktiese aksieplan teen bek-en-klouseer in die Wes-Kaap
# Die Verenigde State het geweier om die meeste van die ooreengekome voorstelle te onderskryf tydens die G20-gesondheidswerkgroepvergadering in Polokwane, Limpopo gister. Die VSA het volgens berigte beswaar gemaak teen verwysings na solidariteit, gelykheid, volhoubaarheid, geslagsgelykheid en inklusiwiteit in die konteks van gesondheid, die kerntemas van Suid-Afrika se presidentskap. Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het in reaksie op die VSA se standpunt gesê universele gesondheidsorg is ononderhandelbaar:
# Die ANC is diep bekommerd oor noodoproepe deur 17 Suid-Afrikaanse burgers wat tans vasgekeer is in die konflikgebied in die Donbas-streek van Oekraïne. Volgens berigte is sestien mans van KwaZulu-Natal en een uit die Oos-Kaap gelok om by gewapende magte in die Rusland-Oekraïne-konflik aan te sluit, onder die dekmantel van winsgewende werksgeleenthede. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu waarsku Suid-Afrikaanse burgers teen deelname aan buitelandse gewapende magte of die verlening van militêre bystand aan buitelandse regerings sonder magtiging:
# Eskom sê die kragstelsel werk steeds betroubaar en demonstreer die positiewe uitwerking van die opwekkingsherstelplan. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokoena, sê die energiebeskikbaarheidsfaktor, wat die persentasie tyd meet wat die opwekkingsvloot beskikbaar is om elektrisiteit op te wek, staan op 71,50-persent vir die maand tot nou. Sy sê dit is 7,46-persent hoër as die 64,04-persent verlede jaar, met ‘n syfer van 63,29-persent vir die jaar tot op hede. Sy sê hierdie syfers toon herstel en volgehoue verbetering in prestasie, wat energiesekerheid en netwerkbestendigheid versterk:
# Die landbou-organisasie, TLU SA, sê die bevestigde gevalle van bek-en-klouseer op ‘n plaas naby Gouda in die Wes-Kaap vereis dringende optrede. Bennie Van Zyl van die organisasie doen ‘n dringende beroep op ‘n deursigtige, samewerkende en praktiese aksieplan wat sonder versuim inwerking gestel kan word. Hy sê dis noodsaaklik dat die Departement van Landbou volledige en deurlopende kommunikasie met boere en landbou-organisasies handhaaf:
# ‘n Tweede tifoon in ‘n week storm af op die Filippyne, met inwoners wat gewaarsku word om te vlug voor die dreigende vernietigende winde en lewensgevaarlike stormgetye. Fung-wong volg kort op die hakke van Tifoon Kalmaegi, wat die dood van sowat 200 mense in die sentrale deel van die Filippyne veroorsaak het, asook as vyf mense in Viëtnam. Weervoorspellers waarsku nou die jongste storm kan tot ‘n supertifoon versterk voor dit Sondag die ooskus tref. Volgens Reuters het Fung-wong reeds dele van die streek met swaar reën en wind getref.
# En tennis: Novak Djokovic is deur na die eindstryd in Athene nadat hy met Yannick Hanfmann afgereken het, en sal vandag teen Lorenzo Musetti van Italië in die eindstryd speel. Musetti moet die wedstryd wen om ‘n plek by die ATP-jaareindtoernooi in Turyn te verseker. Dit was Djokovic se eerste oorwinning na vier nederlae in halfeindrondes. Die 38-jarige Serwiër het vasgeval in die halfeindrondes op Roland Garros, Wimbledon, by die Amerikaanse Ope en in Sjanghai. Sy laaste halfeindronde-oorwinning was by die kleibaan-byeenkoms in Genève in Mei, waarna hy Hubert Hurkacz in die eindronde geklop het vir sy 100ste enkelspeltitel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….