Nuus 13:00
BULLETIN 4 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Misdaadintelligensie-hoof onthul polisie-lede word as huurmoordenaars gewerf
# Oekraïnse hommeltuig-aanval beskadig ‘n petrochemiese aanleg diep in Russiese grondgebied
# En krieket: Die beseerde Dewald Brevis gaan die eendagreeks teen Pakistan misloop
# Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, het voor die Madlanga-kommissie onthul die ondersoek na die moord op ‘n werknemer van Q-Tech, Armand Swart, in Vereeniging, het diep misdadige infiltrasie binne die polisie ontbloot. Khumalo sê vermeende huurmoordenaars, insluitend ‘n adjudant-offisier, is ure na die moord in hegtenis geneem. Hy het onthul sindikate werf nou doelbewus dienende polisielede as huurmoordenaars vir georganiseerde en politieke moorde:
Die Vereniging van Staatsamptenare sê intussen hy is reg bewys nadat onthullings in die Parlement se ad hoc-komitee bevestig het albei adjunk-ministers van Polisie het sedert Junie verlede jaar geen amptelike pligte gehad nie, maar elkeen verdien steeds meer as 2,2-miljoen-rand per jaar. Die vakbond het die 300-miljoen-rand veroordeel wat jaarliks aan 43 adjunkministers bestee word, en noem dit ‘n misbruik van staatsfondse. Hy vra president Cyril Ramaphosa om hierdie oorbodige rolle af te skaf en fondse na noodsaaklike dienste soos gesondheid, onderwys en wetstoepassing te herlei.
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika, Nersa, het die aansoeke vir maksimumgaspryse vir drie gasverspreiders en -handelaars goedgekeur. Nersa het SLG se aansoek goedgekeur vir ‘n maksimum gasprys van 155-rand-34 sent per GigaJoule vir handelaars of herverkopers van gas en 166-rand-92 sent per GigaJoule vir eindgebruikerskliënte. Nersa se woordvoerder, Charles Hlebela, sê die goedgekeurde prys vir Natural Gas Vehicles is 388-rand-77 sent per GigaJoule, en 293-rand-30 sent per GigaJoule vir Virtual Gas Network:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Oekraïnse hommeltuigaanval het die Sterlitamak-petrochemiese aanleg diep in Rusland beskadig, wat tot die gedeeltelike instorting van ‘n watersuiweringsaanleg gelei het. Niemand is beseer nie. Streeksowerhede sê die aanleg in die Bashkortostan-streek, ongeveer een-duisend-500 kilometer van die Oekraïnse grens in die Oeralgebergtes, kon sonder onderbreking met sy werksaamhede voortgaan. Twee hommeltuie wat in die aanval gebruik is, is afgeskiet. Die Russiese Ministerie van Verdediging het in sy daaglikse verslag gesê sy verdedigingstelsels het 83 hommeltuie oor sewe ander Russiese streke vernietig.
# Krieket: Die Protea-kolwer Dewald Brevis gaan die drie eendagwedstryde teen Pakistan in Faisalabad misloop nadat hy ‘n spier in sy skouer verstuit het. Hy is beseer tydens Saterdag se laaste T20 in Lahore, wat die gashere gewen het om die reeks 2-1 te beklink. Die 22-jarige Brevis gaan sy rehabilitasie onder die mediese span voltooi, terwyl Krieket Suid-Afrika binnekort ‘n plaasvervanger sal aanwys. Die eerste eendagwedstryd word vandag gespeel, gevolg deur die tweede een Donderdag en die laaste een Saterdag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 20-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-998-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….