Nuus 13:00
BULLETIN 1 November 1 nm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa moedig premiebesteding aan om nywerheid deur netwerkuitbreiding aan te spoor
# Die Springbokke verwag ’n taai wedstryd teen Japan op Wembley
# En, reën en hewige storms word vandag in Suid-Afrika verwag
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika is bereid om ‘n premie te betaal om seker te maak die multi-miljard-rand uitbreiding van die elektrisiteitsnetwerk bevorder nywerheidsontwikkeling en hervorming. Hy het in Sandton gesê hy erken die bedryf se kommer oor die Onafhanklike Transmissieprojek se verkryging en beloof die gebruik van plaaslike inhoud en deelname vir plaaslike kontrakteurs. Ramokgopa sê bieërs wat vooraf gekwalifiseer het sal op 15 Desember aangekondig word met die amptelike versoek vir voorstelle in 2026:
# Operasie Vulindlela se tweede fase behoort ten spyte van plaaslike uitdagings teen 2029 ekonomiese groei van 3,5-persent te bereik. Rudi Dicks van die Presidensie het tydens ʼn inligtingsessie by die Johannesburgse Aandelebeurs klem gelê op vordering in energie-, logistieke, water-, behuising- en digitale infrastruktuur. Dit sluit in belegging in hernubare energie, kleiner visum-agterstande en privaat spoortoegang. Hy het bevestig dat Tesourie en departemente voortgaan om groei te bevorder, dienslewering te verbeter en beleggings te lok:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, sê informele handelaars met geldige permitte gebruik slimkaarte met QR-kodes vir kontrole. Dit volg nadat ʼn verhoor tussen die stad en handelaars wat deur die instituut vir maatskaplik-ekonomiese regte verteenwoordig word, uitgestel is. Die partye kon nie oor tydelike oplossings ooreenkom nie. Die burgemeester sê gemagtigde handelaars se bedrywighede in belangrike markte het hervat terwyl die stad verordeninge toepas om orde en veilige handelsomgewings te verseker:
# Honderde mense is in Tanzanië dood in drie dae lange betogings na Woensdag se algemene verkiesing. Die land se hoofopposisieparty, Chadema, het aan die AFP-nuusagentskap gesê “sowat 700” mense is dood in botsings met veiligheidsmagte. ʼn Diplomatieke bron in die land het aan die BBC gesê daar is geloofwaardige bewyse dat minstens 500 mense dood is. Tydens die betogings het meestal jong mense in stede reg oor Tanzanië die strate ingevaar omdat hulle die verkiesing as onregverdig beskou. Hulle beskuldig die regering dat hy demokrasie ondermyn deur die hoofopposisieleiers te onderdruk.
# Rugby: Springbok-hulpafrigter Mzwandile Stick en kaptein Siya Kolisi sê dit sal ʼn groot fout wees om Japan te onderskat wanneer hulle later vanmiddag uitdraf op Wembley-stadion vir hul eerste kragmeting in die November Internasionale wedstryde . Kolisi sê hulle is vasbeslote om die toer op ʼn hoogtepunt af te skop, veral met wedstryde teen Frankryk, Italië, Ierland en Wallis oor die volgende vier weke. Die spanne takel mekaar tien oor ses vanmiddag op die ikoniese stadion in Londen.
# En ten slotte, die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel vandag reën oor die grootste dele van Suid-Afrika. Die weerdiens het waarskuwings uitgereik vir swaar donderstorms, hael en skadelike wind in provinsies soos Gauteng, Noordwes, Limpopo en KwaZulu-Natal. Die storms sal vanmiddag hewiger word en stortreën en plaaslike oorstromings tot gevolg hê in laagliggende gebiede en langs belangrike paaie. Inwoners en motoriste word gewaarsku om waaksaam te wees en gevaarsones te vermy.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….