Nuus 13:00
BULLETIN 31 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die president van die Reserwebank sê daar is geen rede om die verlaging van die inflasieteiken na drie-persent uit te stel nie
# Die VF Plus waarsku Ekurhuleni is gevaarlik naby aan fiskale ineenstorting
# En krieket: ‘n Nuwe wêreldkampioen word Sondag gekroon na die eindstryd tussen Suid-Afrika en Indië
# Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê daar is geen rede om die verlaging van Suid-Afrika se inflasieteiken tot drie-persent uit te stel nie, ondanks druk van krag- en watertariewe en salaris-ooreenkomste. Hy het aan Reuters gesê dit sal vordering vertraag om te wag dat meerjarige salaris-ooreenkomste verstryk. Kganyago hou vol die huidige teikenband van drie tot ses persent is verouderd en onmededingend. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het nog nie die verandering geformaliseer nie, maar Kganyago sê markvertroue en dalende effekte-opbrengste steun die skuif.
# Die Vryheidsfront Plus het sy ontsteltenis uitgespreek oor die Ekurhuleni Munisipaliteit in Gauteng se 2025/26-jaarverslag. Denise Janse van Rensburg van die party sê hoewel die metro voorgee sy invorderingskoers is 96,26-persent, wys vorige verslae dis inderwaarheid 11,8-persent in Eskom-gebiede. Sy sê die kontantreserwe het tot slegs 15 dae gedaal, ver onder die Nasionale Tesourie se minimumvereiste van 25 dae:
# Die Wes-Kaapse Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning het die Kaapse Wynland-internasionale lughaweprojek in Kaapstad omgewingsgoedkeuring gegee. Die projek van agt-miljard-rand bestaan uit die uitbreiding van die lughawe buite Durbanville wat in ‘n aantal ontwikkelingsfases gedoen sal word. Die lughawe se besturende direkteur, Deon Cloete, sê die ontwikkeling sluit infrastruktuur in soos rolbane en parkeerplekke vir vliegtuie:
# Krieket: ‘n Nuwe eendag-Wêreldkampioen word Sondag gekroon wanneer Suid-Afrika teen die mede-gasvrou, Indië, te staan kom in die eindstryd in Mumbai. Dit is die Proteas se eerste verskyning in die eindstryd. Indië het voorheen in die eindstyd gespeel toe hulle in 2005 teen Australië verloor het en in 2017 teen Engeland. Suid-Afrika het die eindstryd gehaal deur Engeland in die halfeindronde met 125 lopies te klop, terwyl Indië gister die verdedigende kampioen, Australië, met vyf paaltjies verslaan het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-55-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-twee-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, die 15-jarige Owen Lineker van Plettenbergbaai het die Suid-Afrikaanse sowel as die Afrika-rekord verbeter op die junior nasionale diepsee-hengelkompetisie. Hy het ‘n rooi stompneus van 5,9-kilogram van ‘n boot naby die rotse aan die kus van Gqeberha gevang. Die vorige rekord was 4,9-kilogram. Rooi stompneus word naby rotsagtige riwwe aangetref en hengelaars prys hul veggees en is ‘n skaars vangs vir mense wat vir ontspanning hengel. Owen sê hy het nou sy oog daarop om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….