Nuus 13:00
BULLETIN 27 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SAHPRA gee goedkeuring vir ‘n grondverskuiwende MIV-voorkomingsinspuiting
# Vusimuzi ‘Cat’ Matlala word borgtog geweier
# En rugby: Willemse kan die Bokke se jaareind-toer misloop weens ‘n besering
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte het ‘n nuwe MIV-voorkomingsinspuiting bekendgestel, bekend as Lenacapavir. Die sesmaandelikse inspuiting, wat deur Gilead ontwikkel is, kan gebruik word deur volwassenes en tieners wat meer as 35-kilogram weeg, en moet gepaardgaan met veilige seksgebruike soos die gebruik van kondome. Yuven Gounden van SAHPRA sê die reguleerder het die medisyne in samewerking met die Europese Medisyne-agentskap hersien om toegang tot noodsaaklike behandeling te bespoedig:
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het die omstrede sakeman Vusimusi “Cat” Matlala borgtog geweier. Waarnemende regter Pieter du Plessis het beslis sy vrylating is nie in belang van geregtigheid nie. Matlala staan tereg op aanklagte van sameswering om moord te pleeg oor die beweerde beplanning van ‘n sluipmoord op sy voormalige vriendin, die aktrise Tebogo Thobejane, in 2023, asook van bedrog en geldwassery. Du Plessis het saamgestem met die Landdroshof in Alexandra wat Matlala se borgtog-aansoek geweier het op grond daarvan dat hy ‘n vlugrisiko is.
# Die JG Zuma-stigting het die onlangse uitspraak oor oudpresident Jacob Zuma se regskoste gekritiseer en sê dit dui op die voortgesette ongeregtighede teenoor hom. Die Gautengse Hooggeregshof het Zuma verlede week beveel om 28,9-miljoen-rand van die wapenskandaal-saak se regskoste aan die staat terug te betaal. Die stigting se woordvoerder, Mzwanele Manyi, sê Zuma is geregtig om ‘n eis vir skadevergoeding teen die staat in te stel vir die finansiële en persoonlike skade wat hy weens die onreg verduur:
# Die Stad Tshwane sê ʼn gedetailleerde kontroleringsproses het bevestig die skoonmaakheffing van 194-rand het in September verkeerdelik op sowat 12-duisend verbruikers se rekeninge verskyn. Die Hooggeregshof in Pretoria het die heffing in Augustus ongeldig verklaar. Die metro het intussen daarteen geappelleer. Die burgemeesterskomiteelid vir Omgewings- en Landboubestuur, Obakeng Ramabodu, sê die rekeningstelsel is suksesvol herprogrammeer en klante wat die verkeerde bedrag betaal het, sal ʼn krediet op hul rekening ontvang. Geen kontantterugbetalings sal gedoen word nie.
# Rugby: Die Springbokke sal dalk sonder die heelagter Damian Willemse moet klaarkom vir die vyf toetse op die jaareind-toer. Hy het Saterdag ‘n dyspierbesering opgedoen toe die Stormers Benetton 31-16 geklop het in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die 27-jarige Willemse is in afrigter Rassie Erasmus se groep vir November se toetse teen Japan, Frankryk, Italië, Ierland en Wallis. Die Stormers het nog nie aangekondig hoe erg Willemse se besering is nie. Hy is die enigste erkende heelagter in die Bok toergroep.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-977-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-39-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….