Nuus 13:00
BULLETIN 11 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die senior ondersoeker in die Vusimusi Matlala-pleitooreenkoms word beskuldig van afpersing
# Die Suid-Afrikaanse Gevangenesorganisasie vir Menseregte steun oproep om buitelandse gevangenes te repatrieer
# En motorsport, die Suid-Afrikaanse vlag wapper die naweek by die Atlanta NASCAR-tentoonstelling
# Die Madlanga-kommissie het bewerings van afpersing en korrupsie teen die senior ondersoeker van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Suneel Bellochun, aangehoor. Die ondersoeker was onlangs betrokke by sakeman Vusimusi Matlala se pleitooreenkoms oor die SAPD-Medicare24-tender. Bellochun het na bewering gereelde beskermingsbetalings geëis van ongedokumenteerde Pakistanse spaza-winkeleienaars in die Oos-Kaap. Getuie N het bankrekords ingedien wat na bewering betalings ter waarde van honderdduisende rande weerspieël:
# Die Minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het die arrestasie verwelkom van ‘n amptenaar van die Grensbestuursowerheid wat van korrupsie by die Maseru-grenspos beskuldig word. Die amptenaar is in hegtenis geneem na ‘n gesamentlike ondersoek waarby Binnelandse Sake se Teenkorrupsie-tak, die SAPD se Misdaadintelligensie-eenheid en Ladybrand-speurders betrokke was. Die beampte het na bewering ‘n betaling van 600-rand aanvaar om die paspoort van ‘n Lesotho-burger onwettig te endosseer. Die beskuldigde word van korrupsie aangekla en sal na verwagting Maandag in die Ladybrand-landdroshof verskyn.
# Die Suid-Afrikaanse Gevangenesorganisasie vir Menseregte ondersteun die MK-party se oproep dat buitelandse burgers wat vonnisse in Suid-Afrikaanse gevangenisse uitdien, gerepatrieer moet word. Die party beweer die byna 28-duisend buitelandse gevangenes kos belastingbetalers jaarliks meer as vier-miljard-rand. Die party voer aan daardie fondse kan eerder Suid-Afrikaners ondersteun. Die organisasie se woordvoerder, Golden Miles Bhudu, sê repatriasie sal die beduidende finansiële, menslike, bestuurs- en infrastruktuurkoste vir die huisvesting van buitelandse gevangenes verminder.
# Die Johannesburg Crisis Alliance waarsku die stad se verergerende afvalbestuursmislukkings is besig om in ‘n openbare gesondheidsnoodtoestand te ontaard. Die organisasie sê voortgesette vertragings met die verwydering van vullis skep gesondheids-, omgewings- en veiligheidsrisiko’s vir inwoners. Die Alliansie skryf die krisis toe aan arbeidsgeskille, swak kontrakteursprestasie, finansiële beperkings en swak langtermynbeplanning. Hy sê Pikitup se vermoë om dienste te lewer word beïnvloed deur ouerwordende infrastruktuur en uitdagings met toegang tot fondse vir daaglikse werksaamhede.
# Motorsport: Brand South Africa hou die land se vlag die naweek hoog by die EchoPark Speedway in Atlanta tydens ‘n tweedaagse NASCAR-veldtog. Die president van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel in die VSA, Neil Diamond, lei die mylpaal-uitstalling in die VSA. Die program kombineer sakenetwerkvorming, toerismebevordering en kulturele diplomasie om Suid-Afrika se beeld uit te bou. NASCAR-nuweling Lavar Scott sal ‘n Chevrolet met die Suid-Afrika-handelsmerk tydens vandag se wedren bestuur. Die geleentheid sal ook Suid-Afrikaanse kookkuns uitlig, terwyl bande met Amerikaanse besighede en Suid-Afrikaners oorsee versterk word.
# En ten slotte, die Amerikaanse kletsrymer en sanger-liedjieskrywer, Pitbull, en sy aanhangers het ‘n Guinness-wêreldrekord opgestel vir die grootste byeenkoms van mense met kaalkop-pette by sy BST Hyde Park-konsert in Londen. ‘n Totaal van 22-duisend-141 aanhangers, geklee in die kletrymer se kenmerkende pakke, sonbrille en kaalkop-pette, is voor die vertoning amptelik getel. Pitbull, wie se regte naam Armando Christian Perez is, het die prestasie as ‘n seën en ‘n eer beskryf. Hy het sy kaalkop-aanhangers hartlik bedank vir hul onwrikbare ondersteuning.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….