Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gesinne in Suid-Afrika en Australië is geruk ná die dood van drie seuns in ‘n motorongeluk
# Minister Mchunu lei ‘n spitsberaad van waterdienste-owerhede oor druppelverslae
# En, sokker: Bafana speel vanaand teen Mali in sy eerste Afcon-wedstryd
# Die dood van drie seuns in ‘n motorongeluk in Limpopo het die gemeenskappe van die Wes-Kaap en Australië in rou gedompel. Hulle was op pad terug ná ‘n Vasbyt-uitdaagkamp in Botswana. Die oorledenes is die 17-jarige Jean Conradie en die 16-jarige Daniël Jordaan, albei van Somerset-Wes, en die 16-jarige Werner Oosthuizen van Freemantle in Australië. Twee van die seuns is op die ongelukstoneel dood en die derde onderweg na die hospital. Die ander beseerde seuns is almal reeds ontslaan.
# Die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu sal ‘n twee-daagse spitsberaad vir Waterdienste-owerhede lei na aanleiding van die Blou– en Geen-Druppel-verslae en die Groendruppel-vorderingbeoordelings-verslag. Donderdag en Vrydag se byeenkoms by Emperors Palace in Gauteng, bring verteenwoordigers byeen van 144 waterdienste-owerhede, om afnemende watergehalte en toenemende nie-inkomstewater te bespreek. Die woordvoerder van die departement, Wisane Mavasa, sê aksieplanne sal opgestel word vir munisipaliteite met wisselende prestasievlakke, samewerking en deursigtigheid, wat regstellingsmaatreëls insluit vir tekortkominge:
# Die DA in die Noord-Kaap sê die reusebedrag wat die provinsie skielik gaan bestee om die behuisingsagterstand te verlig, word eerder as verkiesingspropaganda gebruik as vir die werklike herstel van die waardigheid van die mense wat wag om ‘n huis te ontvang. Die party is bekommerd oor die geleende 600-miljoen-rand vir die projek van ‘n miljard-rand wat president Cyril Ramaphosa later die week van stapel gaan stuur. Isak Fritz van die DA sê die geraamde rente op die lening beloop 94-miljoen rand:
# Die regering van Mauritius het sy sikloonwaarskuwing tot die maksimum vlak verhoog namate die Tropiese Storm Belal kragtige wind en swaar reën na die eilandnasie bring. Eerste minister, Pravind Kumar Jugnauth het ‘n bevel uitgereik om binnenshuis te bly. Verskeie vlugte wat vir vandag geskeduleer was, insluitende na Frankryk en Suid-Afrika, is gekanselleer. Die Weerdiens berig die storm beweeg ooswaarts weg van die eiland af. Belal het wydverspreide kragonderbrekings veroorsaak met verskeie voertuie onder water of gestrand weens swaar reën. Sikloon Belal het reeds by die nabygeleë Réunion aangekom en minstens een persoon is dood.
# Sokker: Suid-Afrika speel vandag sy eerste groepwedstryd in die Afrikabeker-toernooi wanneer die span om tien-uur vanaand teen Mali in die Ivoorkus speel. Buurland Namibië speel vroeër teen Tunisië met die afskop om sewe-uur. Die eerste wedstryd van die dag is om vier-uur wanneer Burkina Faso en Mauritanië kragte meet. Bafana Bafana se ander groepwedstryde is Saterdag teen Namibië en volgende Woensdag teen Tunisië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-966-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-40-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….