Nuus 13:00
BULLETIN 24 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cele glo polisiehoofde is nie ‘n kans gegun om die ontbinding van taakspan vir politieke moorde teen te staan nie
# Die DA sê die Nasionale Krugerwildtuin se handelsmerk is die grondslag van Suid-Afrika se florerende ekotoerisme-ekonomie
# En padwedlope: Die wêreldrekordhouer in die vroue-marathon word vir drie jaar geskors
# Die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, sê nasionale kommissaris Fannie Masemola en die KwaZulu-Natalse kommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, is nie die kans gegun om besware in te dien voor die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde nie. Cele het voor die Parlement se ad hoc-komitee bewerings verwerp dat Masemola politieke inmenging toegelaat het, en hom beskryf as eerbiedig, maar te sag om terug te veg. Hy het bygevoeg dat Masemola sy werk goed ken, maar dikwels konfrontasie probeer vermy, wat sy leierskapsposisie kan verswak:
ActionSA sê intussen daar is ‘n ontstellende patroon van samewerking tussen korrupte mense in die strukture van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Johannesburg Metropolitaanse Polisiedepartement. Bewyse voor die ad hoc-komitee wys op ‘n beampte van die metropolisie wat ‘n sakeman wat van moord beskuldig is, help om staatstelsels te misbruik. Zwelithini Mtshali van ActionSA sê die stryd teen korrupsie is nie net om oortreders te straf nie, maar ook die morele gesag van die staat te herstel.
# Die DA sê die Nasionale Krugerwildtuin se globale handelsmerk is die grondslag van Suid-Afrika se florerende ekotoerisme-ekonomie. Die party sê die poging om die naam te verander, wat deur die EFF geopper en deur die MK-party en die ANC in Mpumalanga se wetgewer ondersteun is, was niks meer as ‘n leë vertoningsgebaar nie. Andrew de Blocq van die DA sê die ondermyning van hierdie handelsmerk vir politieke gewin sal die burgers wat hierdie partye beweer hulle verteenwoordig, regstreeks benadeel:
Nuus uit die buiteland:
# Die meeste aandelemarkte het vandag verstewig nadat die Withuis bevestig het die Amerikaanse president, Donald Trump, gaan volgende week met sy Chinese ampsgenoot, Xi Jinping, vergader – ‘n aanduiding dat handelspanning kan afneem. Oliepryse het die afgelope twee dae gestyg nadat Washington sanksies teen twee Russiese ru-oliereuse ingestel het in ‘n poging om die oorlog in Oekraïene te probeer beëindig. Aandele het ‘n ontstuimige tydperk beleef nadat Trump twee weke gelede nuwe vrese oor ‘n handelsoorlog aangewakker het deur te dreig om Beijing met 100-persent-tariewe te belas.
# Padwedlope: Die wêreldrekordhouer in die marathon vir vroue, Ruth Chepngetich van Kenia, is vir drie jaar geskors nadat sy erken het sy het ‘n verbode middel gebruik. Die 31-jarige is in Julie voorlopig geskors toe die Atletiek-integriteitseenheid ‘n ontwateringsmiddel in haar uriene gevind het in ‘n monster wat in Maart geneem is. Die eenheid ondersoek nou verdagte materiaal wat op haar selfoon gevind is om te sien of ander oortredings begaan is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-14-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-321-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-72-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….