Nuus 13:00
BULLETIN 23 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank bied ‘n konferensie aan oor streeksintegrasie en oorgrens-betalings
# Minister Steenhuisen verwelkom die opheffing van Zimbabwe se mielie-invoerverbod
# En krieket: Die Proteas wen die tweede toets teen Pakistan om die reeks gelykop te maak
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank bied vandag die Bevordering van Oorgrens-betalingskonferensie in Pretoria aan. Die geleentheid, in vennootskap met die Bank vir Internasionale Vereffenings, wil geleenthede en uitdagings identifiseer waarmee oorgrens-betalings in Afrika suid van die Sahara te kampe het. Dit sluit in die ingewikkeldheid van die koppeling van vinnige wêreldwye betalingstelsels. President Lesetja Kganyago sal na verwagting ook afgevaardigdes toespreek en Suid-Afrika se G20-voorkeure uiteensit te midde van optimisme dat die land môre van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys verwyder word.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, verwelkom die Zimbabwiese owerhede se besluit om die verbod op die invoer van mielies en ander graansoorte op te hef. Die minister beskryf dit as ‘n belangrike stap in die rigting van die versterking van streeksvoedselsekerheid en ekonomiese samewerking. Die departement se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê die landbousektor floreer op voorspelbaarheid en doeltreffendheid, en beperkende handelsmaatreëls lei té dikwels tot skeefgetrekte markte wat die verbruiker benadeel:
# Die DA sê die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, se aankondiging dat Suid-Afrikaners wat oorsee woon se paspoort per koerier afgelewer sal word, is ‘n groot verbetering. Die afleweringsdiens is van 1 November af beskikbaar by die bestaande Binnelandse Sake-dienssentrums in 18 stede wêreldwyd. Ludré Stevens van die DA sê hierdie groot stap vorentoe is ʼn oorwinning vir Suid-Afrikaners oorsee:
# Krieket: Suid-Afrika het Pakistan met agt paaltjies verslaan in die tweede en laaste toets in Rawalpindi om die reeks te deel. Die Protea-wegbreekbouler Simon Harmer het ses paaltjies platgetrek en Pakistan in sy tweede beurt help uitboul vir 138. Suid-Afrika het die teiken van 68 maklik gehaal danksy kaptein Aiden Markram se 42 en Ryan Rickelton se onoorwonne 25. Pakistan het die eerste toets in Lahore met 93 lopies gewen. Die twee lande pak mekaar nou in drie T20’s.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-311-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-119-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-20-sent per vat.
# En laastens, Mej Heelal Suid-Afrika, die 29-jarige gewese model en rolprent- en televisievervaardiger Melissa Nayimuli, gaan Suid-Afrika volgende maand verteenwoordig op die Mej Heelal-kompetisie in Thailand. Sy is in Butterworth in die Oos-Kaap gebore en haar ma is Xhosa en haar pa Ugandees. Nayimuli het in 2020 aan die Mej Suid-Afrika-kompetisie deelgeneem, maar nie gewen nie, maar het in 2023 onder die top-vyf geëindig. African Beauty International sê Nayimuli sal ‘n boodskap van hoop, eenheid, insluiting en hervorming in Thailand dra.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….