Nuus 13:00
BULLETIN 18 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as tweeduisend verdagtes is landwyd in hegtenis geneem vir seksuele oortredings
# Mashatile soek ‘n handelshupstoot van 695-miljard-rand met Turkye
# En die polisie staak die soektog na ‘n vierjarige wat in die Australiese wildernis vermis word
# Die polisie se Eenhede vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredings het in September twee-duisend-320 verdagtes landwyd in hegtenis geneem vir verkragting, seksuele aanranding en ontvoering. Die Wes-Kaap het die hoogste arrestasies aangeteken met 536, gevolg deur Gauteng met 459 en 360 in KwaZulu-Natal. Ses-en-veertig van die oortreders het lewenslange vonnisse ontvang, terwyl 35 vir 20 jaar tronk toe gestuur is. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk het die inhegtenisneming van ‘n 36-jarige KwaDukuza-verdagte bevestig wat betrek word by verkragtings- en roofsake wat terugdateer tot 2013:
# Die KwaZulu-Natal Departement van Vervoer en Menslike Nedersettings het bevestig dat 106 motoriste in een nag in Newcastle in hegtenis geneem is vir dronkbestuur. Departementswoordvoerder Ndabezinhle Sibiya, het namens die LUR Siniso Duma die wetstoepassingspanne geprys vir hul toewyding. Hy sê die optrede is ‘n belangrike stap in die rigting van die skoonmaak van die provinsie se padnetwerke en die verbetering van padveiligheid vir alle gebruikers:
# Adjunkpresident Paul Mashatile het die behoefte beklemtoon om handels- en beleggingsbande tussen Suid-Afrika en Turkye te verdiep, met die doel om bilaterale handel van 695-miljard-rand te bewerkstellig. Mashatile het by die Suid-Afrika-Turkye Sakeraad gepraat en die diversifisering van handel, die verhoging van uitvoere van vervaardigde en verwerkte goedere, en die balansering van die ekonomiese verhouding beklemtoon. Mashatile het ook Turkse maatskappye genooi om in Suid-Afrika se Spesiale Ekonomiese Sones te belê om groei en werkskepping te stimuleer.
# Die Australiese polisie het die soektog na ‘n vierjarige seun wat vir amper drie weke in die Outback vermis word, gestaak nadat hulle niks kon vind nie. Gus Lamont is laas gesien toe hy buite sy huis op ‘n afgeleë skaapplaas sowat 300 kilometer van Adelaide af gespeel het. Sy ouma het hom vir ‘n halfuur alleen gelaat voordat sy besef het hy is weg, wat gelei het tot een van die grootste soektogte in die geskiedenis van Suid-Australië. Die saak het groot belangstelling gewek met foto’s van die seun wat dwarsoor die land in Australiese media verskyn het.
# En ten slotte sportnuus:
# Tennis: Die Italiaanse tweede gekeurde Jasmine Paolini het haar hoop om vir die WTA-eindstryd te kwalifiseer, lewend gehou met ‘n stewige terugvegoorwinning oor Belinda Bencic, deur gister Switserland se Olimpiese gouemedaljewenner in Tokio in die Ningbo Ope-kwarteindronde te klop. Paolini sal die derde gekeurde Elena Rybakina in die halfeindronde ontmoet, nadat die Russies-gebore Kazakh minder as ‘n uur geneem het om Ajla Tomljanovic later die dag te klop. Die tweemalige Grand Slam-finalis Paolini benodig ‘n oorwinning oor Rybakina in die laaste vier om vir volgende maand se WTA-eindstryd in Riaad te kwalifiseer.
# En motorsport: Red Bull se Max Verstappen het McLaren se titelaanspraakmakers, Lando Norris en Oscar Piastri, in die laaste oefenronde geklop om die voorste wegspringplek vir die Amerikaanse Grand Prix-snelwedren later vandag te verseker. Die Nederlander het albei McLaren-jaers in die laaste drie gewone Grands Prix geklop, maar bly 63 punte agter die kampioenskapsvoorloper, Piastri. Met agt punte vir die wenner op die spel in vandag se 100 kilometer-wedren, het Verstappen en Norris albei ‘n goeie kans om die gaping na die Australiër te verklein. McLaren het reeds die vervaardigerskampioenskap vir ‘die ‘n tweede agtereenvolgende jaar gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….