Nuus 13:00
BULLETIN 16 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mchunu hou vol die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde was geregverdig
# Die nasionale dialoog betree die volgende fase met die aanstelling van die reëlingskomitee
# En rugby: Kolisi en Barrett sien uit na volgende jaar se opwindende All Blacks-toer in Suid-Afrika
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê sy besluit om die taakspan vir politieke moorde te ontbind, was wettig en gegrond op ernstige kommer wat die verklikkers Mary de Haas en Patricia Mashale uitgewys het. Hy het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê sy brief aan die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, bevat ‘n opsomming van sy 29 redes vir die ontbinding. Mchunu het erken dat die aanslag van die brief sagter kon gewees het, maar sê die inhoud was grondwetlik:
# Die African United Borders Bus Trucks Association doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om ‘n proklamasie te onderteken vir ‘n ondersoek na die onwettige bedrywighede van oorgrens-busse. Dit volg nadat ‘n busongeluk Sondag op die N1 naby Louis Trichardt in Limpopo 43 lewens geëis het, met die meeste van die passasiers van Zimbabwe en Malawi. Die voorsitter van die vereniging, Mukhwathi Phumuzo, sê busse word reeds jare lank sonder permitte of met bedrieglike permitte in en uit Suid-Afrika toegelaat:
# Die Presidensie sê die nasionale dialoogproses het ‘n beslissende stadium bereik met die voltooiing van die benoeming van sektorverteenwoordigers op die reëlingskomitee. Die nasionale konvensie wat in Augustus gehou is, het die mandaat, verantwoordelikhede en samestelling van die komitee goedgekeur. Die Presidensie sê 26 sektore het benoemings vir die komitee ingedien. Hy sê die komitee sal ondersteun en gelei word deur die Vooraanstaande Groep Persone wat die taak het om die dialoog te bevorder en raad te verskaf.
# Rugby: Springbok-kaptein Siya Kolisi sê volgende jaar se reeks tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland gaan ongelooflik wees, en iets wat hierdie geslag nooit sal vergeet nie. Die All Black besoek Suid-Afrika vir sewe wedstryde – drie toetse teen die Bokke en kragmetings met die Stormers, die Haaie, die Bulle en die Leeus, terwyl nog ‘n toets in die buiteland gespeel sal word. Nieu-Seeland se kaptein, Scott Barrett, sê dit is ‘n reuse-wedywering wat op wedersydse respek gegrond is, en voeg by dat dit ‘n ongelooflike toer gaan wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-44-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-en-25-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-335-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-29-sent per vat.
# En laastens, omgewingsorganisasies het afgevaardigdes van die G20 wat die ministeriële vergadering van die werkgroep oor die Omgewing en Klimaatsvolhoubaarheid in Kaapstad bywoon, aangemoedig om olie- en gasboorwerk teen te staan, oseane te beskerm en kusbestaan te beveilig. Die vergadering eindig vandag. Lisa Makaula van Green Connection doen ‘n beroep vir hernubare energie, billike klimaatsfinansiering en skoon energieprojekte:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….