Nuus 13:00
BULLETIN 16 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet verwelkom die ondertekening van die vredesplan tussen Israel en Palestyne
# Die Madlanga-kommissie en die media bereik ‘n ooreenkoms om verrigtinge agter geslote deure te hou
# En Londen kry volgende jaar bestuurderlose taxis
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet verwelkom die ondertekening van die Amerikaanse president, Donald Trump, se vredesplan tussen Israel en die Palestyne wat die weg baan om die verwoestende konflik in Gaza te beëindig. Sy sê die stap stem ooreen met Suid-Afrika se langdurige verbintenis tot wêreldvrede, geregtigheid en vryheid vir die mense van Palestina. Ntshavheni sê die kabinet verwelkom ook die vrylating van Israelse gyselaars in ruil vir Palestynse politieke gevangenes:
# Die Madlanga-kommissie in Pretoria het ‘n ooreenkoms met die mediamaatskappye News24 en Daily Maverick bereik om Getuie X se getuienis vandag en môre in camera te hou. Die twee publikasies het sedertdien hul teenkanting teen die geslote verrigtinge teruggetrek, en die kommissie sal nou agter geslote deure voortgaan. Die hoofgetuienisleier, Matthew Chaskalson, sê die besluit volg op kommer oor die sensitiwiteit van die getuienis en die uitwerking wat dit op onafgehandelde ondersoeke kan hê:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die Driefontein-saak waaroor daar wyd berig is, het hernude kommer oor die onteieningsbevoegdhede van die staat laat ontstaan. Die Onteieningswet bepaal dat die regering grond sonder vergoeding mag onteien as dit in openbare belang is. Woordvoerder Makone Maja sê hulle benodig duidelikheid van die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur oor die aantal onteieningsowerhede wat kragtens die Onteieningswet gemagtig is:
# Sokker: Barcelona se middelveldspeler, Frenkie de Jong, het ‘n kontrak tot 2029 geteken. Die 28-jarige Nederlandse internasionale speler het in 2019 van Ajax by Barcelona aangesluit en is die sewende seisoen by die Katalaanse reuse. Hy het twee La Liga-titels gewen asook twee keer die Copa del Rey. De Jong het soms gesukkel om sy spelpeil te handhaaf, maar het verlede seisoen saam met Pedri Gonzalez onder Hansi Flick se leiding ‘n sleutelspeler in die middelveld geword.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-883-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-229-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-4-sent per vat.
# En laastens, die Amerikaanse selfbestuur-motoronderneming Waymo het planne aangekondig om sy robot-taxis volgende jaar in Londen bekend te stel, terwyl Brittanje ‘n outonome voertuigmark wil ontwikkel. Dit is die eerste keer dat Waymo, wat besit word deur Google se moedermaatskappy Alphabe, na Europa sal uitbrei. Dis reeds teenwoordig in ‘n groeiende aantal stede in Amerika. Pendelaars sal in die loodsprojek ‘n bestuurderlose taxi via ‘n toepassing kan bestel sodra die onderneming regulatoriese goedkeuring ontvang het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….