Nuus 13:00
BULLETIN 10 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie laat Getuie N toe om agter geslote deure te getuig
# Minister Aucamp verseker ‘n ooreenkoms om die voorsiening van bek-en-klouseer-entstof uit te brei
# En sokker: Hugo Broos kondig sy uittrede aan as Bafana se hoofafrigter
# Die Madlanga-kommissie het Getuie N in camera-getuienis toegestaan met haar identiteit beskerm. Getuienisleier Mahlape Sello sê sy is deel van die polisie se taakspan vir politieke moorde wat sake by die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap ondersoek. Sy sê om haar identiteit te openbaar kan die ondersoek sowel as kollegas in gevaar stel. Sello sê die getuienis sal nie geredigeer word nie, maar haar naam en fotos moet weerhou word, sonder om haar stem te verander:
Intussen verwelkom Forum for South Africa die verlenging wat aan die kommissie toegestaan is, maar is bekommerd dat kritieke kwessies en persone steeds uitgelaat kan word as die ondersoek nie sonder vrees of begunstiging uitgebrei is nie. President Cyril Ramaphosa het die sperdatum vir die kommissie se finale verslag tot 16 November uitgestel. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die verlenging moenie ‘n vertraging word wat aanspreeklikheid verswak nie:
# Die minister van Landbou, Willie Aucamp, sê sy department het ‘n skikking buite die hof bereik wat ‘n regsgeding beëindig oor die verkryging en verspreiding van bek-en-klouseer-entstowwe. Sakeliga, die landbou-organisasie Saai en Vrystaat Landbou het aangevoer boere moet toegelaat word om entstowwe regstreeks te koop eerder as om te wag op uitgerekte staatsverkrygingsprosesse. Aucamp sê die ooreenkoms sal die mark oopstel vir regverdige mededinging en beter beskikbaarheid van entstowwe meebring:
# Sokker: Hugo Broos het amptelik bevestig sy uittrede as hoofafrigter van Bafana Bafana is finaal en onomkeerbaar. Dit volg ondanks emosionele pleidooie van sy spelers om aan te bly na Suid-Afrika se geskiedkundige lopie tot by die Wêreldbekertoernooi se ronde van 32. Die 74-jarige Belg sê hy is gereed om die eise van aktiewe afrigting en bestuur agter te laat. Broos het aan die Belgiese media gesê sy tyd langs die veld is verby. Hy het intussen volgens berigte met SAFA gepraat oor ‘n moontlike raadgewende rol.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-411-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-101-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-74-sent per vat.
# En ten slotte: Telkom het 100-miljoen-rand beloof om ‘n kunsmatige intelligensie-instituut te vestig en Suid-Afrikaners toe te rus met noodsaaklike vaardighede. Die projek is by ‘n geleentheid van die Verenigde Nasies in Genève, Switserland, aangekondig. Dit brei Telkom rol uit na die ontwikkeling van vaardighede wat jongmense voorberei vir die arbeidsmark. Die program beoog om meer as vyf-duisend studente op te lei in geakkrediteerde, arbeidsmarkgerigte rolle in mynbou, landbou, vervoer en onderwys. Telkom se uitvoerende groepshoof, Serame Taukobong, beklemtoon verbinding sonder vermoë is onvoldoende en die fokus is op digitale insluiting.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….