Nuus 13:00
BULLETIN 15 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaanse tegnologie word in Russiese aanvals-hommeltuie gevind
# Krieket: Pakistan klop Suid-Afrika met 93 lopies in die eerste toets in Lahore
# En 38-persent van Suid-Afrikaners sit in ‘n onvolhoubare skuldstrik
# Die DA sê hy het met groot kommer kennis geneem van Bloomberg se berigte dat laserafstandsmetings-toerusting wat deur die Suid-Afrikaanse firma LightWare Opto-electronics vervaardig is, herwin is van Russiese aanvalshommeltuie wat in die oorlog teen Oekraïne gebruik word. Die party sê die gebruik van Suid-Afrikaans-vervaardigde tegnologie in Russiese oorlogshommeltuie is uiters kommerwekkend. Chris Hattingh van die DA sê die party wil hê die Nasionale Konvensionele Wapenbeheerkomitee se bevindinge in die LightWare-saak moet gepubliseer word in ‘n dokument wat geskik is vir openbare en parlementêre ondersoek.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, en die Chinese doeane-administrateur, Sun Meijun, het ‘n geskiedkundige handelsprotokol vir steenvrugte in Sjanghai, China, onderteken. Amerikaanse tariewe plaas tans druk op uitvoerders en daarom hou hierdie ooreenkoms groot moontlikhede in wat China se sterk mark betref. Die departement se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê toegang tot die Chinese mark kan oor die volgende vyf jaar sowat 400-miljoen-rand vir die land ontsluit, wat moontlik oor die volgende tien jaar kan verdubbel:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê 77-duisend-442 kandidate sal vanjaar die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen in die provinsie aflê. Hiervan is 67-duisend-606 voltydse matriekkandidate, terwyl nege-duisend-836 deeltydse kandidate of herhalers is. Die eksamen begin Dinsdag wanneer 12-duisend-736 kandidate Rekenaartoepassings-tegnologie se praktiese vraestel aflê. Die LUR, David Maynier, sê teen die tyd dat die eksamen op 26 November eindig, sal 112 vraestelle geskryf wees:
# Krieket: Pakistan het Suid-Afrika met 93 lopies verslaan in die eerste van twee toetse in Lahore. Die tuisspan het die besoekers ‘n wenteiken van 277 gestel en die Proteas het vandag hul tweede beurt op 51 vir twee hervat nadat kaptein Aiden Markram en naguiltjie Wiaan Mulder gister uitgehaal is. Ryan Rickelton se kolfbeurt het vanoggend geëindig op 45 en Dewald Brevis s’n op 54. Die ander kolwers het nie beduidende bydraes gemaak nie en Suid-Afrika is uitgeboul vir slegs 183. Die tweede toets begin Maandag in Rawalpindi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-14-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-510-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-190-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrikaners vind vernuwende maniere om hul begrotings te laat klop, bykomende inkomstestrome te verken en die meeste te maak van die hulpbronne tot hul beskikking. Dit is volgens die eerste Money & Me-opname deur JustMoney.co.za, wat ses kategorieë ondersoek het: verdien, leen, bestee, spaar, beskerm en vertrou. Die opname het vyf-duisend-500 aanlyn reaksies gelok. Sunette Ansara van JustMoney sê 61-persent van die deelnemers vind elke maand finansieel moeilik, terwyl 38-persent in ‘n onvolhoubare skuldstrik vasgevang is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….