Nuus 13:00
BULLETIN 13 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bantu Holomisa gaan getuig in die Cradock Vier-ondersoek in die Hooggeregshof in Gqeberha
# Al 20 die oorlewende Israeliese gyselaars is deur Hamas oorhandig
# En krieket: Die Protea-vroue speel vandag teen Bangladesj in die Wêreldbekertoernooi
# Die UDM-leier, Bantu Holomisa, sal na verwagting getuig in die heropende ondersoek na die moorde op die Cradock-Vier in 1985, wat van vandag tot die 24ste in die Hooggeregshof in Gqeberha in die Oos-Kaap plaasvind. Hy verskyn as die voormalige voorsitter van die Transkeise militêre raad, met die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder, Eugene de Kock, en die oudminister van Swart Onderwys, Barend du Plessis, wat na verwagting ook sal getuig. Die families van Fort Calata, Matthew Goniwe, Sicelo Mhlauli en Sparrow Mkonto hoop die derde geregtelike doodsondersoek sal toerekenbaarheid bring.
# Die Padverkeersbestuurskorporasie het ‘n span ongeluk-ondersoekers na Limpopo ontplooi na die busongeluk op die N1 naby Ingwe Lodge wat 42 lewens geëis het. Woorvoerder Simon Zwane sê die bus het omgeslaan en 17 mans, 18 vroue en sewe kinders is dood. Hy sê verkeersvloei bly ‘n probleem terwyl ondersoeke voortduur, en motoriste word versoek om versigtig en geduldig te wees:
Nuus uit die buiteland:
# Hamas het die 20 oorlewende Israelse gyselaars oorhandig ingevolge ‘n wapenstilstandooreenkoms, terwyl die Amerikaanse president, Donald Trump, en ander wêreldleiers voorberei vir ‘n spitsberaad oor Gaza. Gyselaarsgesinne is in Tel Aviv deur ‘n groot skare ondersteun, wat met vreugde, trane en sang reageer het op die nuus van die eerste vrylatings. Die pyn vir die verlies van diegene wat nie oorleef het nie, was egter tasbaar. Israel sal op sy beurt byna twee-duisend Palestynse gevangenes uit sy tronke vrylaat.
# Krieket: Die Protea-vroue speel vandag teen Bangladesj in die Wêreldbekertoernooi nadat Australië gister haar greep op die boonste posisie op die punteleer verstewig het met ‘n oorwinning van drie paaltjies oor die mede-gasvrou. Indië het ‘n uitstekende 330 aangeteken toe hul laaste paaltjie in die voorlaaste boulbeurt gekantel het, maar die verdedigende kampioen het die teiken bereik met ‘n boulbeurt en sewe paaltjies oor. Die ander lande tans in die halfeind-posisies is Engeland, Indië en Suid-Afrika, met Nieu-Seeland, Bangladesj, Sri Lanka en Pakistan aan die onderpunt.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-en-40-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-73-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-56-sent per vat.
# En laastens, die Penguin Palooza in die Stony Point-natuurreservaat in Bettysbaai in die Wes-Kaap vier Afrika-pikkewynbewaring en lok gesinne na markte, uitstallings en die vrylatings van pikkewyne. Afrika-pikkewyne is tans kritiek-bedreig, en CapeNature en die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls poog om die spesie te beskerm en plaaslike toerisme te bevorder. Petro van Rhyn van CapeNature sê die geleentheid moedig die beskerming van pikkewyne aan en dien ook as aansporing om mariene-ekostelsels in Suid-Afrika te beskerm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….