Nuus 13:00
BULLETIN 10 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Venezuela se opposisieleier, Maria Corina Machado, wen 2025 se Nobelprys vir Vrede
# WaterCAN sê Johannesburg se waterkrisis is ‘n menseregte-noodgeval
# En motorsport: Sainz vra TV-uitsendings moet fokus op die renjaers en nie hulle meisies nie
# Venezuela se opposisieleier, Maria Corina Machado, het 2025 se Nobelprys vir Vrede gewen vir haar dapper stryd om demokrasie in haar land te herstel. Wêreldwye aandag rondom vanjaar se prys het ook gevolg op bespiegelings oor die Amerikaanse president, Donald Trump, se langdurige strewe om die eer te beklink. Jorgen Watne Frydnes van die Nobelkomitee beskryf Machado as ‘n verenigende leier wat stembriewe bo koeëls verkies in die stryd vir vrye en regverdige verkiesings:
Terug in Suid-Afrika:
# WaterCAN sê die Stad Johannesburg se waterkrisis is ‘n menseregte noodgeval wat lewens, voortbestaan en inwoners se waardigheid bedreig. Die organisasie gaan volgende maand by die burgemeester Dada Morero se kantoor vir watergeregtigheid betoog. Die metro staar ‘n voortslepende waterkrisis in die gesig weens verouderde infrastruktuur en onvoldoende onderhoud weens begrotingsbeperkings. Die uitvoerende bestuurder van WaterCAN, Ferrial Adam, sê onderbediende gemeenskappe word veral deur die onbetroubare watervoorsiening geraak:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het belanghebbendes en burgers versoek om kommentaar te lewer op die Wysigingswetsontwerp op Algemene Familiereg. Die wetsontwerp wil verskeie belangrike wetgewings wysig, naamlik die Egskeidingswet, die Wet op Huweliksgoedere en die Wet op Bemiddeling in Sekere Egskeidings-aangeleenthede. Die komitee se voorsitter, Xola Nqola, sê hierdie wetgewing handel oor belangrike eienskappe van familiereg wat baie burgers regstreeks raak. Hy sê dit is ‘n geleentheid om by te dra tot die vorming van ‘n billike en inklusiewe regsraamwerk.
# Motorsport: Williams se Spaanse Formule Een-renjaer, Carlos Sainz, dink televisie-dekking moet eerder fokus op wedrenne as op die bestuurders se meisies. Dit volg nadat kykers tydens die naweek se Grand Prix in Singapoer moes kyk na hoëprofiel-vriendinne en beroemde gaste terwyl van die aksie op die baan ignoreer is. Sainz se vordering van laaste tot die tiende posisie is onder meer nie gedek nie. Sy vriendin, die model Rebecca Donaldson, en ander renjaers se meisies het ‘n groot aanlyn-aanhang van hulle eie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-755-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-992-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-56-sent per vat.
# En laastens, CapeNature verwelkom die suksesvolle vervolging en vonnis van ‘n 38-jarige Mosambiekse burger, Gustigu Mthini, wat op vier aanklagte skuldig bevind is na ‘n gewelddadige aanval op ‘n beskermde gevlekte ooruil in Kaapstad vroeër vanjaar. Hy is skuldig bevind vir die onwettige jag van ‘n beskermde voël, die onwettige jag deur ‘n verbode jagmetode, dieremishandeling en immigrasie-oortredings. Petro van Rhyn van CapeNature sê alle diere het ‘n rol te speel in die onderhoud van die balans van Suid-Afrika se ekostelsels:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….