Nuus 13:00
BULLETIN 7 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse regering bevestig die aankoms van die flottielje-aktiviste in Jordanië
# Nathi Mthethwa se familie hoop om hom hierdie naweek te begrawe
# En die Wêreldgesondheids-organisasie sê miljoene kinders is verslaaf aan damprook
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het die veilige aankoms van die Global Sumud-flottielje se aktiviste in Jordanië aangekondig. Hy sê die Suid-Afrikaanse ambassadeur, Tselane Mokuena, was teenwoordig om die afvaardiging namens die land te ontvang. Lamola herbevestig die regering se opregte dankbaarheid aan alle belanghebbendes wat bygedra het tot die suksesvolle uitkoms deur hulle samewerking en ondersteuning. Hy sê daar word verwag dat die afvaardiging môreoggend op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng sal land:
# Die familie van Suid-Afrika se gewese ambassadeur in Frankryk, Nathi Mthethwa, sê hulle hoop om hom Sondag te begrawe nadat die Franse owerhede die lykskouing afgehandel het. Mthethwa is verlede week dood nadat hy volgens berigte van die 22ste verdieping van die Hyatt Regency Hotel in Parys geval het. Sy selfoon is in ‘n nabygeleë park gevind. Die familie se woordvoerder, Sfiso Buthelezi, het aan Newzroom Afrika gesê Mthethwa se liggaam sal Donderdag uit Frankryk vertrek en Vrydag in Suid-Afrika aankom:
# Die Departement van Vervoer het bevestig dat hulle verlede maand ‘n vlugpermit aan ‘n Russiese vlugoperateur, Abakan Air, uitgereik het. Die Amerikaanse Departement van Finansies se Kantoor vir Buitelandse Batebeheer het Abakan Air in Junie verlede jaar vir sanksies aangewys, met verwysing na die maatskappy se rol in die vervoer van Russiese militêre toerusting. Die Russiese IIyushin IL-76-vragvliegtuig het Donderdag in Upington in die Noord-Kaap geland met ‘n vol vrag. Die departement se woordvoerder, Collen Msibi, sê die vliegtuig het ‘n burgerlike helikopter en ‘n akrobatiese vliegtuig vervoer:
# Sokker: Nog sewe Wêreldbeker-deelnemers behoort bevestig te word in hierdie week se Afrika-kwalifiseerders. Bafana Bafana is een van die gunstellinge, maar is nou twee punte agter Benin in Groep C nadat hulle gestraf is weens die gebruik van ‘n geskorste speler. Bafana het egter twee tuiswedstryde en Benin twee wegwedstryde. Daar word verwag dat Egipte sal deurdring wanneer hy môre in Groep A teen Djibouti speel. Algerië benodig slegs een punt in Groep C teen Somalië, terwyl die Kaap Verdiese Eilande vier punte voor Kameroen in Groep D is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 124-duisend-171-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-961-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, die Wêreldgesondheidsorganisasie sê e-sigarette vuur ‘n ontstellende nuwe golf van nikotienverslawing aan, met miljoene kinders wat tans verslaaf is aan damprook. Lande wat die data kan verskaf, toon kinders is gemiddeld nege keer meer geneig as volwassenes om e-sigarette te rook. Die VN se gesondheidsagentskap sê die bedryf bevorder damprook as minder skadelik as sigarette, maar in werklikheid teiken hulle jongmense terwyl kinders verslaaf raak. Meer as 100-miljoen mense rook tans e-sigarette volgens die WGO se eerste wêreldwye skatting.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….