Nuus 13:00
BULLETIN 5 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC gaan raadslede wat teen die party werk, verwyder
# Telkom skenk grond ter waarde van R3,9-miljoen om skoolinfrastruktuur te versterk
# En Rusland laat hommeltuie en missiele op Oekraïne reën
# Die ANC sal ingryp by plaaslike regerings in provinsies en burgemeesters en raadslede verwyder wat teen die party se belange werk. Sekretaris-generaal Fikile Mbalula het tydens ‘n spesiale Nasionale Uitvoerende Komitee-vergadering beklemtoon die party sal fokus op die verskerping van kandidaat-keuring en sy interne prosesse versterk:
# Drie mense is dood en nog twee ernstig beseer in ‘n ongeluk tussen ‘n vragmotor en ‘n ligte motorvoertuig op die N2 in Ophongolo. KwaZulu-Natal se LUR vir Vervoer, Siboniso Duma, het sy meegevoel aan die families betuig en bevestig dat ondersoek ingestel word. Die woordvoerder, Ndabezinhle Sibiya, sê Duma sal voortgaan met operasies by die 17 weegbrûe regoor die provinsie om vragmotorongelukke te bekamp terwyl owerhede werk aan padveiligheid in die provinsie:
# City Power het ses eiendomme wat miljoene op hul elektrisiteitsrekeninge skuld, ontkoppel tydens sy jongste inkomsteherwinningsveldtog in Johannesburg. Die operasie, gelei deur die Hursthill Diensleweringsentrum en wetstoepassers, het wanbetalers in Auckland Park, Northcliff, Fairland en Westdene geteiken. Agterstallige skuld het gewissel van 600-duisend-rand tot 2,3-miljoen-rand. City Power het kliënte aangespoor om aan te hou betaal terwyl navrae ondersoek word, en opnuut bevestig dat hy 1,6-miljard-rand in uitstaande skuld wil verhaal.
# Telkom het grond ter waarde van 3,9-miljoen-rand aan die Departement van Basiese Onderwys geskenk om skoolinfrastruktuur in Gauteng en die Wes-Kaap te ondersteun. Die belofte is gemaak tydens ‘n vergadering wat deur die minister, Siviwe Gwarube, bygewoon is as deel van haar privaatsektor-betrokkenheidsveldtog. Telkom se Groephoof vir Korporatiewe Sake, Mpho McNamee, sê die maatskappy belê in volhoubare onderwysoplossings. Gwarube het die vennootskap verwelkom en dit as die sleutel bestempel vir infrastruktuur-agterstande en die verbetering van toegang tot gehalte-leeromgewings.
# NAVO-lid Pole het sê hulle het vroeg vanoggend vliegtuie ontplooi om hul lugruim te beveilig na Rusland lugaanvalle op Oekraïne uitgevoer het. Oekraïnse amptenare het berig dat missiele en hommeltuie op die Lviv-streek naby die Poolse grens neergereën het. Die hele Oekraïne was vir etlike ure oornag onder lugaanvalwaarskuwings, met die Oekraïnse lugmag wat ernstige waarskuwings oor missiel- en hommeltuigaanvalle vir die Lviv-streek uitgereik het. Die burgemeester van Lviv, Andriy Sadovyi, sê die stad se lugverdedigingstelsels was voortdurend besig om eers ‘n hommeltuig- en toe ‘n Russiese missielaanval af te weer.
# En krieket: Die veelsydige speler Ravindra Jadeja het gister met kolf en bal geskitter toe Indië die Windies met ‘n beurt en 140 lopies binne drie dae van die eerste toets geklop het. Indië het ‘n oornagtelling van 448-5 verklaar, ‘n voorsprong van 286, en toe die Wes-Indiese Eilande vir 146 lopies in die tweede sessie by die wêreld se grootste krieketstadion in Ahmedabad uitgeskakel. Dit was nog ‘n afbrekende nederlaag vir die Wes-Indiese Eilande, wat ‘n skaduwee is van die span wat eens wêreldkrieket oorheers het. Die tweede toets begin op 10 Oktober in Nieu-Delhi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….