Nuus 13:00
BULLETIN 2 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra die onmiddellike vrylating van die afgevaardigdes van die Global Sumud-flottielje
# COPE beskuldig die ANC van die dwarsboming van agterstallige verkiesingshervorming
# En tennis: Die Fransman Gaël Monfils gaan einde volgende jaar uittree
# President Cyril Ramaphosa het die Israelse regering gevra vir die vrylating van Suid-Afrikaners en ander burgers wat ontvoer is toe Israelse owerhede die Global Sumud-flottielje onderskep het. Die president se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die flottielje bestaan uit humanitêre vaartuie wat hulp aan Gaza wil lewer. Hy sê Suid-Afrikaners wat aan boord van die flottielje was sluit in Nkosi Zwelivelile Mandela, Zukiswa Wanner en Reaaz Moola, en bevestiging oor die ontvoering van Zaheera Soomar, Fatima Hendricks en Carrie Shelver is nog hangend.
# COPE eis die instel van ‘n verkiesingstelsel wat op kiesafdelings berus om die regstreekse verhouding tussen kiesers en hul verkose verteenwoordigers te versterk. Die party het die ANC en sy bondgenote daarvan beskuldig dat hulle die land se kiesafdeling-demokrasie met lank-agterstallige verkiesingshervorming saboteer. Pakes Dikgetsi van COPE sê die huidige geslote lys van proporsionele verteenwoodiging is outyds, beskerm Parlementslede teen toerekenbaarheid en versterk die ANC se greep op mag.
# Die United Democratic Movement sê hy het ‘n amptelike klagte by die Menseregtekommissie ingedien teen die omstrede mediafiguur, Ngizwe Mchunu. Die 44-jarige Mchunu loop onder kritiek deur nadat hy ʼn video van homself aanlyn geplaas het waarin hy neerhalende aanmerkings maak oor foto’s van ʼn homoseksuele paartjie in tradisionele klere wat soos ʼn veldbrand versprei het. Yongama Zigede van die UDM sê in plaas daarvan om eenheid te bewerkstellig, sleep Mchunu se woorde die land terug na verdeeldheid en haat:
# Tennis: Die veteraan-Fransman Gaël Monfils beplan om aan die einde van volgende jaar uit te tree. Die 39-jarige voormalige wêreld-nommer-ses het in sy loopbaan 13 ATP-toertitels ingepalm, die laaste in Auckland, Nieu-Seeland, in Januarie – byna twee dekades na sy eerste titel in Pole in 2005. Monfils het twee Grand Slam-eindstryde bereik – die Franse Ope in 2008 en die Amerikaanse Ope agt jaar later. Die gewilde speler sê hy koester die voorreg dat hy sy passie kon omskep in ‘n loopbaan van 21-jaar.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-741-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-876-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, die Universiteit Stellenbosch het professor Deresh Ramjugernath as sy 13de rektor en visekanselier ingehuldig. Die seremonie is bygewoon deur akademiese, regerings- en burgerlike samelewingsleiers, en word beskryf as ‘n beslissende oomblik vir die instelling. Ramjugernath het onderneem om holistiese transformasie, inklusiwiteit en outentieke verkryging in hoër onderwys aan te vuur. Hy het agt strategiese pilare uitgewys wat die universiteit se toekoms sal vorm, met die klem op Afrika-gesentreerde uitnemendheid, vernuwing en gemeenskapsinvloed:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….