Nuus 13:00
BULLETIN 1 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema word skuldig bevind in sy vuurwapenverhoor
# Die Madlanga-kommissie verdaag omdat die Misdaadintelligensie-hoof Dumisani Khumalo ongesteld is
# En die terrein van die Oktoberfest in Munchen bly gesluit na ‘n bomdreigement en ontploffing
# Die EFF-leier, Julius Malema, is skuldig bevind op alle aanklagte in sy vuurwapenverhoor in die Landdroshof in Oos-Londen in die Oos-Kaap. Sy medebeskuldigde, sy voormalige lyfwag Adriaan Snyman, is vrygespreek. Die aanklagte spruit uit 2018, toe Malema ‘n geweer afgevuur het op ‘n saamtrek in Mdantsane. Landdros Twanet Olivier het beslis die staatsgetuies was geloofwaardig. Sy het die saak uitgestel tot 23 Januarie volgende jaar vir ‘n voorvonnisverslag:
# Die Madlanga-kommissie het verdaag nadat die hoof van Misdaad-intelligensie, Dumisani Khumalo, siek geword het voor hy kon voortgaan met sy getuienis. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê ‘n besluit sal later vandag bekend gemaak word of die verrigtinge môre hervat sal word. Khumalo het getuienis gelewer oor beweerde bande tussen die sakemanne Vusimuzi ‘Cat’ Matlala en Brown Mogotsi, en die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu. Michaels sê die sittings is steeds in fase een:
# Forum for South Africa sê die leierskap van die ontslape Suid-Afrikaanse ambassadeur na Frankryk, Nathi Mthethwa, het die Ministeries van Polisie en van Sport, Kuns en Kultuur verswak. Woordvoerder Tebogo Mashilompane verwys na die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, wat voor die Madlanga-kommissie getuig het Mhethwa het ingemeng in polisiewerksaamhede toe hy minister was, wat misdaadbestrydings-pogings verswak het. Hy het sy meegevoel met Mthetwa se naasbestaandes uitgespreek, maar beklemtoon leiers moet aanspreeklik wees, selfs na hulle dood:
Nuus uit die buiteland:
# Die perseel van München se Oktoberfest sal tydelik gesluit bly nadat ‘n brand en ontploffing ‘n gebou in die suidelike deel van die Duitse stad geruk het. Die organiseerders van die bierfees sê op hulle webwerf dat hulle ‘n bomdreigement ontvang het. Die polisie sê ploftoestelle is in ‘n woonstelgebou in die noorde van München gevind en hulle ondersoek ‘n moontlike verbintenis met die fees wat jaarliks in die middestad van die Beierse hoofstad plaasvind.
# Krieket: Die ervare Australiese veelsydige speler Glenn Maxwell gaan die T20-reeks in Nieu-Seeland misloop nadat hy sy arm in ‘n fratsongeluk gebreek het. Hy het in die nette geboul toe ‘n hou van Mitchell Owen hom getref het. Die 36-jarige Maxwell is geneig tot eienaardige beserings. Hy het in 2022 sy been gebreek toe ‘n vriend by ‘n partytjie daarop geval het, en ‘n jaar later harsingskudding opgedoen toe hy van ‘n gholfkarretjie afgeval het. Die paaltjiewagter-kolwer Josh Philippe sal Maxwell in die groep vervang vir die drie T20-wedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-261-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-885-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….