Nuus 13:00
BULLETIN 26 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die KZN-vervolgingshoof getuig sy is nooit formeel in kennis gestel van die polisie-taakspan se ontbinding nie
# Action Society veroordeel die howe oor vertragings met geslagsgeweldsake
# En rugby: Die Springbok-losvoorspeler Kwagga Smith verwag ’n fisiese stryd teen Argentinië
# Die KwaZulu-Natalse Direkteur van Openbare Vervolging, Elaine Harrison, het aan die Madlanga-kommissie gesê sy is nooit formeel in kennis gestel oor die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde nie. Harrison sê sy het dit op sosiale media uitgevind en aanvanklik gedink dit is fopnuus. Sy het getuig die taakspan was noodsaaklik in die koördinering van ondersoekbeamptes en toegewyde aanklaers, wat tot beter skuldigbevindingsyfers in politieke moordsake gelei het:
# Action Society sê Suid-Afrikaanse howe laat slagoffers en hulle gesinne in die steek deur die eindelose uitstel en jare lange vertraging van sake. Die organisasie het twee sake, dié van Asiphe Cetywayo en Nadia Lotz, uitgelig. Die Cetywayo-saak sloer reeds ‘n jaar en ʼn half, terwyl Lotz se lewensmaat haar al twee en ʼn half jaar gelede in Maart 2023 vermoor het. ʼn Action Society-woordvoerder, Kaylynn Palm, sê geregtigheid vir slagoffers en hulle gesinne moet voorkeur kry:
# Die Britse eerste minister Keir Starmer het planne aangekondig om ‘n gratis digitale ID vir burgers en mense wat in die land woon, in te stel in ‘n poging om onwettige migrasie te bekamp. Die regering sê dit sal makliker wees om aansoek te doen vir dienste soos rybewyse, kinderversorging en welsyn. Die nuwe digitale ID sal op mense se fone gestoor word en dit sal nie vir hulle nodig wees om hulle ID saam te dra of te vertoon nie. Dit sal egter verpligtend wees as ‘n manier om te bewys dat jy mag werk.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Kwagga Smith sê hulle verwag môre in Durban ʼn taai en fisiese stryd teen Argentinië. Daar is slegs twee punte verskil tussen Australië en Argentinië wat onderskeidelik eerste en laaste op die punteleer is, met twee Rugbykampioenskap-rondes wat oorbly. Die All Blacks takel môre die Wallabies in Auckland. Smith sê hulle fokus die naweek op wat hulle moet doen om in die wedloop te bly en hul titel te verdedig:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-609-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-747-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-39-sent per vat.
# En laastens, die tema vir vandag se Wêreldomgewinggesondheidsdag is Skoon Lug, Gesonde Mense. Vandag word samewerking tussen publiek en privaat ondernemings aangemoedig om onderhoubare gebruike in te stel, besoedeling te bekamp en by klimaatverandering aan te pas om openbare gesondheid te bevorder. Sowat 99-persent van mense wêreldwyd asem lug in wat die WGO se veiligheidsreëls oorskry en hulle aan gevaarlike vlakke van besoedeling blootstel. Die Internasionale Federasie van Omgewingsgesondheid sê onderhoubare praktyke en beleidsrigtings kan die uitwerking van lugbesoedeling versag en mense se gesondheid en welstand verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….