Nuus 13:00
BULLETIN 13 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ses mense sterf op pad van Limpopo af onderweg na die ANC-verjaarsdagvieringe
# Die stemproses is onderweg in Taiwan se kritieke verkiesing, wat fyn dopgehou word deur China
# En, tennis: Die Suid-Afrikaner Lloyd Harris se Australiese Ope-veldtog begin môre
# Ses mense het hulle lewens verloor terwyl hulle op pad was van Tzaneen in Limpopo vir die ANC se 112de bestaansvierings in Mbombela, Mpumalanga. Die minister van Polisie Bheki Cele het ook by die vieringe aan Newzroom Afrika bevestig dat 18 mense beseer en in die hospitaal opgeneem is. Cele het die instelling van sekerheidsmaatreëls onderstreep by die 43-duisend-sitplek stadion in Mbombela omdat die ANC verwag om duisende ondersteuners te verwelkom:
# Amerika het ‘n voorlopige ooreenkoms bereik met Afrika-lande om die voorkeur-handelstoegang met nog ‘n dekade te verleng, hangende goedkeuring deur die Kongres. Die minister van Handel en Nywerheid Ebrahim Patel het onthul meer as 30 Afrika-lande sal kan voortgaan met aksynsvrye uitvoere na die Amerikaanse mark. Die bestaande Wet op Afrika-groei en -geleenthede, AGOA, wat in September 2025 verval, speel ‘n belangrike rol in die bou van ekonomiese bande tussen die VSA en Afrika-lande.
# Die organisasie sonder winsbejag, PROTEC, doen ‘n beroep op steun vir wetenskap-, tegnologie-, ingenieurs- en wiskundevakke, bekend as STEM, in minderbevoorregte Suid-Afrikaanse skole. PROTEC fokus op die aanspreek van die kritieke behoefte aan onderwyssteun vir leerders en onderwysers in dié vakke. Die uitvoerende hoof Balan Moodley het in gesprek met eNCA die belangrikheid beklemtoon van die bied van volle blootstelling aan hierdie vakke, van die grondslag- en intermediêre vlakke van onderwys af, wat die basis lê vir studente om in dié velde verder te studeer:
# Stemmery was vroeër onderweg in Taiwan se presidensiële en parlementêre verkiesing wat deur China uitgebeeld is as ‘n keuse tussen oorlog en vrede. Beijing het die druk verhoog vir die eiland om sy soewereiniteit te aanvaar. Taiwan is ‘n demokratiese suksesstorie sedert sy eerste direkte presidensiële verkiesing in 1996. Dit was die gevolg van ‘n dekade-lange stryd teen outoritêre regering en krygswet. Reuters berig die regerende Demokratiese Progressiewe Party, ‘n voorstander van Taiwan se afsonderlike identiteit wat China se territoriale aansprake verwerp, jaag ‘n derde termyn aan bewind na. Sy kandidaat is die huidige vise-president Lai Ching-te.
# En, laastens, tennis: Lloyd Harris van Suid-Afrika kom môre te staan teen die Franse speler Quentin Halys, wat op nommer 101 op die wêreldranglys is, in die eerste ronde van die Australiese Ope in Melbourne. Harris het gekwalifiseer vir die mans enkelspel deur gister nog ‘n Fransman, Hugo Gaston, met 6-0, 6-2 te klop. Harris is tans 149ste op die ATP-wêreldranglys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….