Nuus 13:00
BULLETIN 24 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fannie Masemola bevestig hy het die klag ingedien wat tot Shadrack Sibiya se skorsing gelei het
# Vriende van Israel waarsku Iran se invloed op die ANC bedreig werksgeleenthede en kan lei tot staatskaping
# En, Suid-Afrika mik om vandag ‘n braaiwêreldrekord te verbeter
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het aan die Madlanga-kommissie gesê hy was die een wat die aanvanklike klag ingedien het teen die adjunk- nasionale polisiekommissaris vir Misdaadopsporing, Shadrack Sibiya. Die klag het verband gehou met Sibiya se optrede om beheer te neem van die taakspan vir politieke moorde se 121 dossiere, dit na Pretoria te stuur, en Masemola se instruksies oor die afsluiting van die eenheid te verontagsaam. Masemola sê Sibiya is nou geskors en staar ‘n dissiplinêre ondersoek in die gesig:
Die voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Johan Booysen het intussen gesê leierskapskonflikte binne die SAPD belemmer misdaadbestrydingspogings. Booysen het reageer op getuienisse deur KwaZulu-Natal Polisiekommissaris Nhlanhla Mkwanazi en Nasionale Kommissaris Fannie Masemola voor die Madlanga-kommissie in Pretoria. Booysen, wat voor die Zondo-kommissie getuig het, sê niks het sedert 2011 verander nie en hy onthou politieke inmenging en die sluiting van sleuteleenhede. Hy sê die huidige situasie is déjà vu (uitspraak Dy-ja-vu) en waarsku dit ondermyn polisiëringsintegriteit.
# Die Hooggeregshof in Mpumalanga het voormalige adjunkpresident David Mabuza se pensioensaak van 44-miljoen-rand tot volgende Dinsdag uitgestel. Mabuza se dogter, Tamara Silinda, beweer ‘n gebruiklike huwelik maak haar ma ‘n regmatige begunstigde, en betwis ‘n sertifikaat wat deur sy weduwee Nonhlanhla Mnisi ingedien is. Regter Johannes Roelofse het bevind teenstrydige dokumente maak ‘n uitspraak nie moontlik nie. Hy het Alexander Forbes beveel om in beëdigde verklarings te verduidelik of die fondse ‘n pensioen- of lewensversekeringspolis is, wat die verspreiding daarvan sal bepaal.
# Die Suid-Afrikaanse organisasie Vriende van Israel waarsku Iran se groeiende invloed op die ANC se buitelandse beleid hou risiko’s in vir staatskaping en massiewe werkverliese. Hulle woordvoerder, Bafana Modise, vergelyk die situasie met die Guptas en sê buitelandse beleid word gekaap ten koste van gewone Suid-Afrikaners. Modise waarsku dat Suid-Afrika belangrike handelsvoordele soos die Afrika Groei- en Geleentheidswet kan verloor, wat tot 100-duisend werksgeleenthede in die landbou- en motorbedrywe in gevaar kan stel. Hy maan die regering om binnelandse bestendigheid en globale geloofwaardigheid te prioritiseer.
# Tennis: Die voormalige wêreldnommer-een Novak Djokovic neem volgende maand by die Sjanghai Meesters-toernooi deel. Die 24-malige Grand Slam-kampioen het na sy nederlaag vroeg in September in die halfeindronde van die Amerikaanse Ope teen Carlos Alcaraz nog nie weer in ‘n amptelike wedstryd gespeel nie. Die 39-jarige Djokovic was daarna vaag oor sy planne vir die einde van die seisoen. Sy deelname aan die Paryse Meesters en die ATP-finaal in Turyn, die twee grootste toernooie na Sjanghai, moet nog bevestig word. Djokovic het sedert 2012 vier keer in Sjanghai gewen.
# Nagenoeg tweeduisend-500 mense is gereed met hulle roosters op Loftus in Pretoria om op Erfenisdag ‘n Guinness-wêreldrekord te verbeter. Die plan is om Japan se 2023-rekord van tweeduisend-220 mense wat gelyktydig braai, te oortref. ‘n Woordvoerder van Guinness Wolrd Record Manchester, Glenn Pollard, het aan Newzroom Afrika gesê deelnemers moet die reëls volg en vermorsing vermy. Hy sê Guinness-amptenare, toesighouers en streng reëls sal toesien dat Suid-Afrika se groot braai hopelik geskiedenis maak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….