Nuus 13:00
BULLETIN 22 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Masemola sê die kommissie bied ‘n unieke kans om oor polisie-uitdagings te besin en hervorming te dryf
# President Ramaphosa herhaal SA se oproep tot hervorming van die VN-Veiligheidsraad
# En, krieket: Quinton de Kock is terug in die Proteas se span
# Die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola sê die Madlanga-kommissie bied ‘n unieke geleentheid om oor die uitdagings waarmee die Suid-Afrikaanse Polisiediens te kampe het, te besin en ‘n pad uit te stippel vir betekenisvolle hervorming. Die sittings in Pretoria het hervat, met Masemola wat getuig ná die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Masemola sê aanspreeklikheid, deursigtigheid en om polisie-tekortkominge aan te spreek, is die sleutel tot die herstel van openbare vertroue en om ‘n herhaling te voorkom van gebeure wat tot die kommissie gelei het:
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika staan by sy oproep vir die hervorming van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad en globale realiteite moet beter weerspieël word. Die president is hierdie week by die 80ste sitting van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York. Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief gesê die huidige samestelling van die raad en sy besluite ondermyn die gees van wêreldwye samewerking. Hy sê pogings tot hervorming, insluitend voorstelle om die permanente lidmaatskap van die raad uit te brei, het vasgeval en hernuwing moet plaavind.
# Die DA het die Kommissaris van die Staatsdienskommissie, professor Somadoda Fikeni, skriftelik versoek om die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, se aanstelling van drie nuwe administrateurs van die Sektor Onderwys en Opleidingsowerheid om te keer. Die aanstelling van Oupa Nkoane in die Konstruksie-Seta, Lehlogonolo Masoga in die Dienste-Seta en Zukile Mvalo in die Plaaslike Regering-Seta, het kritiek ontvang. Karabo Khakhau van die DA sê die drie is nie geskik vir die rol as Seta-administrateurs nie:
# Frankryk en Saoedi-Arabië bring vandag talle wêreldleiers byeen om steun vir ‘n tweestaatoplossing te werf, met verskeie van hulle wat na verwagting ‘n Palestynse staat formeel sal erken. Israel en Amerika boikot die beraad. Die Amerikaanse administrasie het gewaarsku teen moontlike gevolge vir diegene wat stappe teen Israel neem, insluitend teen Frankryk, wie se president, Emmanuel Macron, die New York-beraad aanbied. Die beraad, aan die vooraand van die VN se Algemene Vergadering later die week, volg nadat Israel sy lank-dreigende grondaanval op Gaza begin het.
# Krieket: Quinton de Kock is by die Proteas se T20 en eendag-groep ingesluit om in Oktober en November teen Pakistan en Namibië te speel. Die 32-jarige paaltjiewagter, wat na die 2023 Wêreldbeker uitgetree het uit eendagkrieket, het sy besluit herroep en sy begeerte uitgespreek om die Proteas in albei die witbalformate te verteenwoordig. David Miller is die kaptein vir die T20-groep, en Matthew Breetzke sal die eendagspan aanvoer. Donovan Ferreira is Protea-kaptein gedurende die T20-wedstryd op 11 Oktober teen Namibië in Windhoek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-354-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-721-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….