Nuus 13:00
BULLETIN 21 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê AfriForum-Solidariteit se VSA-veldtog is misleidend
# Daar is verhoogde sekuriteit terwyl Amerikaners bymekaarkom vir ‘n Kirk-herdenking
# En motorsport: Verstappen spring eerste weg by die Azerbeidjan Grand Prix
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê AfriForum en Solidariteit se beplande VSA-afvaardiging is misleidend. Die groepe sê hulle beoog om belanghebbendes te ontmoet om vir Suid-Afrika te pleit. Vroeër vanjaar het AfriForum na die VSA gereis en bewerings gemaak oor Afrikaner-volksmoord en grondonteiening sonder vergoeding. Lamola het in ‘n onderhoud met die SABC News in New York gesê hulle probeer die land negatief uitbeeld:
# Sakeliga het gewaarsku teen ernstige gevolge nadat die Stad Ekurhuleni ‘n eiendom van 64-miljoen-rand sonder vergoeding vir ‘n behuisingsprojek onteien het. Sakeliga se uitvoerende hoof, Piet le Roux, sê die 34-hektaar Driefontein-eiendom is in 2019 gekonfiskeer. Le Roux sê die saak sal in Oktober bemiddel sal word en in Februarie 2026 op verhoor gaan. Hy sê dit dui op die regering se voorneme met onteiening sonder vergoeding. Daar word nou regs- en diplomatieke stappe voorberei:
# NotInMyName International ondersteun die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi se getuienis voor die Madlanga-kommissie. Woordvoerder Themba Masango sê sy onthullings ontbloot diep korrupsie en etiese verval in die politiek en die strafregstelsel. Masango het Mkhwanazi se integriteit en patriotiese moedige daad geprys. Hy doen ‘n beroep op die regering en die Kommissie om te verseker dat hierdie oomblik hervorming dryf en aanspreeklikheid in die regstelsel herstel:
# President Donald Trump en ander prominente Amerikaanse politieke figure is te midde van verhoogde sekuriteit op pad na Arizona om te praat by ‘n gedenkdiens vir die 31-jarige konserwatiewe aktivis Charlie Kirk, wat twee weke gelede tydens ‘n buiteluggeleentheid by ‘n universiteit in Utah vermoor is. Openbare sluipmoorde in die VSA word gewoonlik begroet met oproepe deur politieke leiers vir kalmte, gebed en eenheid. Die Trump-administrasie probeer egter om die “radikale linkses” te beskuldig en teen hulle op te tree, wat beskuldigings van regeringsoorskryding tot gevolg het. Daar word beweer Kirk se dood word as ‘n verskoning gebruik om burgerlike vryhede te skend.
# En sportnuus:
# Rugby: Die Leeus se afrigter, Mziwakhe Nkosi, het sy mededinger, Peter Bergh, geprys nadat die Kimberley-span gistermiddag ‘n skok-oorwinning van 27-25 in die Curriebeker-eindstryd op Ellispark behaal het. Die besoekers het die oorwinning beklink met ‘n strafskop deur George Whitehead in die laaste minute van die wedstryd, wat ‘n 55-jaar lange trofee-droogte beëindig het en die Leeus tot ‘n tweede agtereenvolgende Curriebeker-eindstrydnederlaag gedwing het. Nkosi sê hulle is uiters teleurgesteld, veral nadat hulle genoeg gedoen het om te wen. Maar hy het bygevoeg dat niks van Peter Bergh en sy span weggeneem kan word nie, veral vanuit ‘n taktiese oogpunt.
# En motorsport: Max Verstappen het gister sy sesde voorste wegspringplek van die seisoen vir die Azerbeidjan Grand Prix op die Baku-straatbaan behaal ná ‘n chaotiese kwalifiseringsessie met minstens sewe ongelukke. Red Bull se heersende wêreldkampioen sal die Spanjaard Carlos Sainz van Williams langs hom hê, met die Nieu-Seelander Liam Lawson van Racing Bulls derde. Die Wêreldkampioenskapleier Oscar Piastri sal na ‘n ongeluk uit die negende plek wegspring, twee plekke agter sy McLaren-spanmaat Lando Norris. Die sewemalige wêreldkampioen Lewis Hamilton se brandstof het tydens die sessie opgeraak en hy sal twaalfde wegspring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….