Nuus 13:00
BULLETIN 20 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Helen Zille word amptelik benoem as DA-burgemeesterskandidaat vir Johannesburg
# Eskom vier 126 dae sonder beurtkrag
# En ‘n oornagse Russiese aanval in Oekraïne eis drie en beseer tientalle
# Die DA-leier John Steenhuisen het die party se Federale Raadsvoorsitter, Helen Zille, as hul burgemeesterskandidaat vir Johannesburg in die 2026 Plaaslike Regeringsverkiesing aangekondig. Steenhuisen het in Soweto gesê Johannesburg is ‘n stad van buitengewone mense wat deur swak politieke leierskap belemmer word. Steenhuisen het politici beskuldig dat hulle die stad se begroting wanbestuur en gesê die DA is die “muti” wat Johannesburg nodig het. Hy het kiesers aangespoor om nie hul stem te verdeel nie en gewaarsku dat dit die stad se agteruitgang sal verleng:
# Eskom rapporteer ‘n bestendige kragstelsel ondersteun deur sy Generasie Herstelplan met 126 opeenvolgende dae sonder beurtkrag. Met ‘n maand-tot-datum Energie Beskikbaarheidsfaktor van 71-persent, is dit die hoogste in jare. Onbeplande onderbrekings het gedaal tot ‘n agtjaar-laagtepunt van vyfduisend-989-megawatt. Die Eskom-woordvoerder Daphne Mokoena sê dieselverbruik het ook skerp gedaal. Sy sê daar is aan meer as 97-persent van die huidige finansiële jaar se aanvraag voldoen:
# Die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, sê die verbloeming van identiteite kan in sekere gevalle ‘n moontlike oplossing wees vir die sluipmoorde op staatsaanklaers. Kubayi sê televisie-uitsendings van hofverrigtinge stel staatsaanklaers onbewustelik in gevaar met hul gesigte wat gewys word terwyl beskuldigdes versteek bly. Die minister sê daar is vyf aanklaers doodgeskiet in net soveel jaar. Sy sê om stelsels in die geval van geïdentifiseerde hoërisiko-sake te verskerp kan help. Kubayi sê die sluipmoorde is ‘n bedreiging vir die strafregstelsel.
# Die Bronkhorstspruit-landdroshof het ‘n plaaslike adjunkhoof borgtog van vyfduisend-rand toegestaan onder streng voorwaardes, insluitend dat hy twee keer per week by die polisie aanmeld en geen kontak met die klaer het nie. Hy staan tereg op drie aanklagte van die verkragting van ‘n agtjarige leerder op die skoolterrein tussen Junie 2024 en Augustus 2025. Lumka Mahanjana van die Nasionale Vervolgingsgesag sê aanklaers het borgtog teengestaan en ‘n vlugrisiko aangevoer, maar die landdros het buitengewone omstandighede bevind:
# Die Oekraïense president Volodymyr Zelensky sê drie mense is oornag dood en tientalle beseer in een van Rusland se grootste aanvalle van die oorlog. Die Oekraïense leier sê Moskou het 40 kruis- en ballistiese missiele en ongeveer 580 hommeltuie van verskillende tipes lanseer. Zelensky sê elke aanval is nie ‘n militêre noodsaaklikheid nie, maar ‘n doelbewuste strategie deur Rusland om burgerlikes te intimideer en Oekraïense infrastruktuur te vernietig. Hy het ‘n sterk internasionale reaksie versoek. Dit was die meeste missiele en hommeltuie wat deur Rusland op Oekraïne afgevuur is sedert Februarie 2022.
# En fietsry: Al die fietsryers by vanjaar se UCI Fietsry Wêreldkampioenskap in Rwanda sal GPS-toetstelle op hulle fietse hê om veiligheid te verbeter. Dit volg na ‘n tragiese ongeluk in verlede jaar se kompetisie in Switserland wat gelei het tot die dood van Muriel Furrer, ‘n Switserse tiener in die juniorvroue-wedren naby Zurich. Die opsporingstegnologie was by drie skofte van die Tour de Romandie Feminin in Switzerland getoets. Met ‘n ongeluk of ‘n skielike verandering in spoed kan die toestel dadelik buitengewone situasies identifiseer. Die wedren begin hierdie naweek in Kigali, ‘n eerste vir Afrika.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….