Nuus 13:00
BULLETIN 18 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mkhwanazi verskaf besonderhede oor die gevare vir getuies in politieke moordsake
# Cosatu versoek die Reserwebank om die terugkoopkoers te verlaag om werkers ‘n blaaskans te gee
# En krieket: Dewald Brevis sê sy reuse-koopprys op die SA20 gaan hom nie verander nie
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het die Madlanga-kommissie gewaarsku getuies in politieke moordsake kan ernstige gevare te wagte wees. Hy het teruggekeer na die Brigitte Mabandla-justisiekollege in Pretoria om sy getuienis voor te sit oor die ontbinding van die politieke moord-taakspan. Mkhwanazi sê baie getuies word vermoor of verlaat die getuiebeskermingsprogram:
Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê intussen die wreedaardige moorde op aanklaers is ‘n gruwelike aanval op die regstelsel en die oppergesag van die reg. Sy sê vyf aanklaers is die afgelope vyf jaar in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap vermoor. Kubayi sê hierdie aanvalle op mense in die regsberoep wat ‘n belangrike rol speel om geregtigheid en die oppergesag van die reg te handhaaf, is onaanvaarbaar:
# Cosatu het die Suid-Afrikaanse Reserwebank dringend versoek om die terugkoopkoers te verlaag vir ‘n blaaskans aan miljoene werkers wat weens die stygende lewenskoste sukkel om te oorleef. Die bank het koerse met altesaam 125 basispunte verlaag sedert die aanvang van die siklus van koersverlagings verlede September – van 8,25-persent tot sewe-persent. Matthew Parks van Cosatu sê die Monetêre Beleidskomitee moet die koers vandag met minstens 50 basispunte sny:
# Krieket: Die Protea-kolwer Dewald Brevis sê die reuse-koopprys wat hy in die SA20 losgeslaan het, gaan hom nie verander nie en hy gaan steeds op die veld om homself te geniet. Pretoria Capitals het die 22-jarige gekoop vir ‘n allemintige 16,5-miljoen-rand gedurende verlede week se spelersveiling nadat hy die eerste drie seisoene vir die verdedigende kampioen, M-I Cape Town, gespeel het. Brevis, wat in Gauteng grootgeword het, beskryf sy tyd in Kaapstad as baie spesiaal, maar is opgewonde om na sy tuisstad terug te keer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-240-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-670-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-26-sent per vat.
# En ten slotte: Die fliekmaker Spike Lee, Warner Brothers se uitvoerende hoof, Pamela Abdy, die klankbaan-komponis Nicholas Britell en die draaiboekskrywer Will Tracy is van die mense wat vereer word op vanjaar se Montclair-rolprentfees in Amerika. Lee word vereer vir sy bydrae as rolprentmaker terwyl Adby die Visioenêre Toekenning vir haar loopbaan ontvang deur flieks soos Sinners en Weapons uit te lig. Britell, wat musiek vir die fees se openingsaand-rolprent, Jay Kelly, geskryf het, word met die Komponis-toekenning vereer. Tracy ontvang die Draaiboekskrywer-toekenning en Shih-Ching die Deurbraakregisseurs-toekenning.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….