Nuus 13:00
BULLETIN 17 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie begin met sy ondersoek
# Regerings vra beskerming vir die Global Sumud-flottielje
# En rugby: Erasmus behou geloof in die kern-Bokgroep vir die toetse teen Argentinië
# Die Madlanga-kommissie van ondersoek het begin met sy verhore oor misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel. Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, is die eerste getuie in die Brigitte Mabandla-justisiekollege in Pretoria. Die getuienisleier, Terry Motau, sê Mkhwanazi se plofbare bewerings sal openlik en onpartydig ondersoek word. Hy voeg by ‘n konsepverslag word binne drie maande verwag, en waarsku die belemmering van die ondersoek is ‘n strafregtelike oortreding:
Build One South Africa vra president Cyril Ramaphosa intussen om hom in die openbaar te verbind tot die hantering van die bevindings en aanbevelings van die kommissie asof dit wetlik bindend is, hoewel dit nie so is nie. BOSA sê burgers is moeg van herhaalde ondersoeke wat nie tot werklike optrede of hervorming lei nie.
# Statistieke Suid-Afrika sê die jaarlikse verbruikersprysinflasie het in Augustus tot 3,3-persent verlangsaam, minder as die 3,5-persent in Julie. Die hoofdirekteur van prys-statistieke, Patrick Kelly, sê laer voedsel- en brandstofpryse het gehelp om die koers te verlaag. Jaarlikse inflasie vir voedsel en nie-alkoholiese drankies het tot 5,2-persent gedaal en brandstof het met 5,7-persent gedaal. Kelly sê intussen is stapelvoedsel, insluitend graankosse en witrys, goedkoper, maar beesvleis en sekere groente bly duur:
Nuus uit die buiteland:
# Sestien ministers van Buitelandse Sake het kommer uitgespreek oor die veiligheid van die Global Sumud-flottielje wat hulp aan Gaza neem. Die flottielje wil bewustheid verhoog vir dringende humanitêre behoeftes in Gaza en die beeïndiging van die oorlog. Die ministers van Suid-Afrika, Bangladesj, Brasilië, Colombia, Indonesië, Ierland, Libië, Maleisië, Maledive, Mexiko, Pakistan, Katar, Oman, Slowenië, Spanje en Turkye vra in ‘n gesamentlike verklaring dat internasionale reg gerespekteer moet word. Hulle waarsku dat enige aanval, aanhouding of skending van die deelnemers se regte aanspreeklikheid sal ontketen ingevolge internasionale reg.
# Rugby: Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, het die meeste spelers behou wat Nieu-Seeland verlede naweek geklop het toe hy sy groep aangekondig het vir die laaste twee Rugbykampioenskapswedstryde teen Argentinië in Durban en Londen. Die groep kom môre in Durban bymekaar nadat hulle ‘n paar dae saam met hulle gesinne deurgebring het. Willie le Roux is uitgelaat. Lood de Jager, Jean-Luc du Preez, Aphelele Fassi, Gerhard Steenekamp, Frans Malherbe, Salmaan Moerat en Kurt-Lee Arendse sal weens beserings nie speel nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-39-sent teen die dollar, 20-rand-60 teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-792-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-670-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….